Twee ervare elektrisiëns van Kimberley meen werkloosheid en swak wetstoepassing is van die dryfvere vir glyjakkalse wat desperate mense wat oplossings vir beurtkrag soek, oor die land heen verneuk.
Dié volg op onlangse berigte van mense wat klagtes by die polisie ingedien het nadat hulle honderde duisende rande aan “sonkraginstalleerders” betaal het, wat nooit die werk gedoen of produkte afgelewer het nie.
Volgens Lionel Maroudas, gekwalifiseerde en geregistreerde installeerder-elektrisiën, faal die staat om installasie-elektrisiëns en –kontrakteurs en die gehalte van hul werk te inspekteer.
Huiseienaars is veronderstel om ’n elektrisiën wat vir hulle werk verrig te vra na bewyse van registrasie by die departement van arbeid en ’n registrasiebewys van kwalifikasies.
Elektrisiëns se lidmaatskap aan die Electrical Contractors Association (ECA) of die Electrical Contractors Board (ECB) is vrywillig. Die ECA of ECB staan lede by wanneer geskille met kliënte of arbeiders opduik.
Maroudas van Tau Contractors sê ingevolge wetgewing moet elektrisiëns by die departement van arbeid geregistreer wees om elektriese werk te doen.
“Die registrasie kan jaarliks of elke drie jaar hernu word. Die departement moet inspekteurs uitstuur om vakmanne en die gehalte van hul werk na te gaan.
“Ek is nie bewus van inspekteurs in Kimberley wat dit doen nie, en ek glo dit is hoekom soveel mense ingeloop word.”
Net hulle mag installasies doen
Elektriese installeerders moet kwalifiseer as ’n elektrisiën deur die sogenaamde rooiseël te verwerf.
Die eerste kwalifikasie is die enkelfase elektrisiën, wat sy rooiseël verwerf en enkelfase-eksamen skryf.
Vir die tweede kwalifikasie is die rooiseël, asook die N3- en installasie-elektrisiën-eksamen ’n vereiste. Die derde kwalifikasie behels ’n rooiseël, N6, en ’n eksamen as meesterelektrisiën.
Elektrisiëns kan met enige van dié kwalifikasies by die departement van arbeid as ’n elektriese kontrakteur registreer.
Sonder die kwalifikasies is dit onwettig om ’n huis te bedraad.
Die installasie- en die meesterelektrisiën is vir werk met twee- en drie-fases, en gelykstroom (GS) gekwalifiseer. Slegs installasie- en meesterelektrisiëns is gekwalifiseerd om sonkragstelsels wat GS gebruik, te installeer.
Slegs meesterelektrisiëns is gemagtig om in gespesialiseerde ruimtes soos hospitale en petroleum-aanlegte te werk.
“Jare gelede kon net geregistreerde elektriese kontrakteurs toerusting by handelaars koop, maar handelaars pas nie meer die reël toe nie en enigeen kan enige elektriese toerusting koop.
“Sommiges hou wel ’n databasis van geregistreerde kontrakteurs. Laasgenoemde se name verskyn ook in die Staatskoerant.”
Sambreelliggaam nodig
Die ander elektrisiën, wat nie sy naam wil publiseer nie, stel voor dat handelaars, versekeraars, prokureurs en banke wat huislenings toestaan, ’n sambreelliggaam stig wat ’n databasis hou van geregistreerde en gekwalifiseerde kontrakteurs met rekords van goeie dienslewering.
Maroudas sê hy weet van soortgelyke organisasies in ander dele van die land.
Laer prys laat hulle swig
’n Groot knelpunt in die bedryf is die sertifikaat van nakoming (COC) wat ’n geakkrediteerde, gekwalifiseerde en geregistreerde elektrisiën moet uitreik wanneer ’n huis verkoop en die transaksie by die aktekantoor geregistreer word.
Dit word ook uitgereik wanneer ’n sonkragstelsel, waarin GS gebruik word, installeer word.
“Daar is net ’n handvol kontrakteurs in Kimberley wat gekwalifiseerd en geregistreerd is om sonkragstelsels te installeer.
“Die GS-stelsel waarby ’n kragtige battery betrokke is, kan dodelik wees as die kontrakteur nie weet wat hy doen nie. Anders as ’n gewone wisselstroom (AC) wat uitskop as daar ’n kortsluiting is, gebeur dit nie met GS nie.
“Mense wil verkeerdelik geld spaar deur enigeen aan te stel, eerder as die gekwalifiseerde kontrakteurs wat veiligheidsvereistes streng nakom.
“Swendelaars adverteer sonkragstelsels teen kosprys, want hulle weet hulle gaan nie die produk lewer en die werk doen nie.
“Goedgelowige mense swig voor goeie pryse en vra nooit na die kwalifikasie en registrasie van die elektrisiën nie.”
(Onveilige) kortpaaie gevolg
Wanneer ’n huis gebou of verkoop moet word, moet die verkoper ingevolge wetgewing die COC-sertifikaat verkry, wat geld kos.
“Dit is wanneer kortpaaie gebruik word en die betrokke huis nie getoets word om te bepaal of die bedrading veilig is of nie.
“Prokureurs wat die eiendomstransaksies hanteer het soms geen idee dat ’n COC-sertifikaat nie op die regte manier uitgereik is nie.”
Maroudas sê dit sal beter wees as die koper vir die COC betaal.
“Nog ’n voorstel is dat wanneer ’n huis verkoop word, dit deur ’n onafhanklike inspekteur vir alle soorte foute nagegaan word en die koper en verkoper daaroor ingelig word.
“Die huiskooptransaksie kan nie voltooi word indien die foute nie reggemaak word nie.
“Dit is dieselfde proses soos wanneer ’n kar deur die toets gesit moet word.
“Die foute moet eers reggemaak word voordat die voertuig as padwaardig verklaar en geregistreer kan word.”




