Onwettige storting is algemeen in Kimberley, soos in Fabriciaweg.

Foto: Charné Kemp

Die benoeming van Kimberley vir Kwêla op kykNET se Dorp van die jaar-kompetisie is ’n wekroep vir die munisipaliteit, sakesektor en inwoners om die stad weer te laat sprankel.

Só sê Sanet Gouws, ondervoorsitter van die nie-winsgewende organisasie Kimberley Bring Back the Sparkle.

“Die algemene verval en agteruit­gang van die stad wat altyd as ‘the city that sparkles’ bekend gestaan het, het ons genoop om die geskiedkundige stad te vernuwe. Ons wil die glans terugbring, ’n bydrae lewer om toeriste te trek en besighede aanmoedig om hier te vestig. Mense wat deur Kimber­ley ry, moet oorbly en geld bestee.

“Ek moet foto’s vir die Kwêla-wedstrydorganiseerders stuur om te bewys Kimberley kan die titel verower. Dit behels netjiese ingange, borde wat besoekers verwelkom en aantreklike toeristebestemmings.”

Die groep van Kimberley Bring Back the Sparkle ruim naweke telkens ’n ander betrokke plek in samewerking met die munisipaliteit op.

Ondernemings skenk geld en kos om werkloses te betaal om saam met vrywilligers te werk. Hulle skep werk en verbeter werkloses se lewensgehalte, sê Gouws.

Hulle nader in die voorafgaande week ondernemings en inwoners oor ’n plek wat skoongemaak gaan word om skenkings in te samel.

Die organisasie het al van die ingangs- en hoofroetes, asook die Kimberley-stasie, netjies gemaak.

“Die munisipaliteit sê waar ons kan werk, en hulle verwyder die sakke. Ons werk van 08:00 tot 13:00.”

Gouws moedig alle inwoners aan om die stad skoon te hou.

“Mense moet foto’s neem van dié wat onwettig vuilgoed stort. Daar is stywe boetes vir onwettige storting. Ons vra dat elke skool, kerk, hospitaal, ouetehuis, gastehuis, besigheid en individu sy sypaadjie en omgewing netjies hou.”

Kimberley Bring Back the Sparkle maak ook verkeersirkels en -eilande netjies, plant blomme, struike en inheemse bome, verf heinings en rig bankies en vullisdromme op.

“Ons wil plaaslike toere in en om Kimberley vir skoolgroepe, ouetehuise en ander belangstellendes aanbied om weer besoekers na Kimberley te trek, afvalmateriaal help herwin en kunstefeeste terugbring,” sê Gouws.

Die organisasie benodig skenkings van R150 om een werklose mens te betaal. Bottels water, kruideniersware vir werkloses, kennisgewingborde, verf, tuinbankies, vullisdromme, vullissakke, tuingereedskap, weggooi­handskoene, plante, struike en inheemse bome, asook vrywilligers, is welkom. Sover moontlik gaan elke skenker se naam in die sosiale media publiseer word.

  • Kontak die groep op WhatsApp by 068-543-0022.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article