Vir die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie die toerismebedryf geknou het, vind daar dié Desembervakansie spooktoere en ander toeristepraatjies in Kimberley plaas waarna besoekers kan uitsien.
Steve Lunderstedt, plaaslike geskiedskrywer en bekende toergids, gaan Vrydagaand (09/12) twee spooktoere by die Groot Gat aanbied, asook twee nuwe geskiedkundige toere by die Kimberley Klub waar besoekers óf koek en tee/koffie óf ’n tweegangete kan geniet.
“Die Covid-pandemie het beslis die aantal internasionale toeriste geknou, hoewel daar tog meer kom soos tyd verloop. Die meeste toeriste wat ons nou in Kimberley sien is Suid-Afrikaners, waarvan heelwat in geskiedenis en spookstories belangstel,” sê hy.
“Ek het vroeër weens veiligheidsredes my gewone spooktoer elders in die stad afgelas.”
Benewens dié toere is daar ook ’n Kersmark Vrydag (van 15:00 tot 20:00) en Saterdag (van 09:00 tot 20:00) by die Groot Gat.
Lunderstedt gaan Vrydag twee uurlange spooktoere, om 19:00 en 20:30, aanbied. Slegs 30 kaartjies is vir elke toer beskikbaar. ’n Toegangskaartjie van R150 sluit die spooktoer, asook ’n besoek aan die uitkykplatform en die ondergrondse replika-myntonnel in.
Daar is ook pryse te wen vir die besoeker met die beste heks- of towenaar-kostuum.
“Daar is ’n verskil tussen geeste en spoke. Spoke is onbewus van mense, maar geeste kan kommunikeer.
“Ons gaan ook na die eerste verdieping van Gowies’ Corner-gebou en die David Harris-balsaal aan die ander kant van die Occidental-restaurant. Die spook in die balsaal het my al groot laat skrik. Die ou polisiekantoor op die terrein het ook ’n paar interessante verhale.”
Kaartjies is by die Groot Gat te koop.
Die toere wat Lunderstedt by die Kimberley-klub aanbied, gaan gereeld plaasvind.
“Die klub, eens die rykste en bekendste gentlemen’s club ter wêreld, het al die ondersteuning van betalende klante nodig wat dit kan kry, veral ná die Covid-19-inperking..”
Hy bied ’n maandelikse Sondagmiddagtoer van die klub aan. Tee en koek is ingesluit by die kaartjieprys van R130. Die eerste Sondagmiddagtoer is om 15:00 op 11 Desember.
Die ander toer, waarvan die eerste om 18:00 op 23 Desember plaasvind, sal gereeld op ’n Vrydag plaasvind. Die kaartjie van R200 sluit ’n tweegang-maaltyd in. Besprekings kan by die Kimberley-klub gedoen word.





