Die polisie se forensiese ondersoekeenheid bestudeer die misdaadtoneel nadat Danny Jonas, speaker van die Thembelihle-munisipaliteit, se huis in Hopetown na bewering met petrolbomme bestook is.

Foto’s: Verskaf

Gemeenskaplede kyk na die skade ná die beweerde aanval op Danny Jonas, speaker van die Thembelihle-munisipaliteit, se huis in Hopetown.

Die speaker van die Thembelihle-munisipaliteit in Hopetown leef in vrees nadat sy huis glo op 15 Oktober met petrolbomme bestook is, kort voor die tweede verskyning van ’n voormalige burgemeester wat van bedrog beskuldig word.

Brenda Mpamba, ANC-raadslid en vorige burgemeester, word daarvan beskuldig dat sy twee vals reis-eise van ongeveer R15 000 ingedien het. Sy het reeds opsy gestaan van haar verpligtinge as ANC streekstesourier van die Pixley ka Seme-streek.

Die drama volg op ’n forensiese ondersoek na die munisipale geldsake wat Danny Jonas, speaker, van die nasionale tesourie versoek het.

“Ek, my vrou, en ons twee minderjarige dogters kruip weg, ons vrees vir ons lewe,” sê hy. “Die matrasse, meubels en huis self is beskadig. Die voorval het tussen 02:00 en 03:00 gebeur toe die petrolbomme deur die ruite gegooi is. Drie van ons was in een kamer en my ander dogter (9) in die ander een. Die vlamme het hoog gestaan in haar kamer, die gang en kombuis. Die bure, wat mense oor die heining sien spring het, het die polisie gebel.”

Kapt. Olebegeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê hulle ondersoek ’n saak van opsetlike saakbeskadiging en poging tot brandstigting weens die aanval op Jonas se huis. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Jonas het ook doodsdreigemente wat hy in Julie ontvang het by die polisie aangemeld. Hy meen die aanval kom nadat hy en Leonard Makena, burgemeester, in April vanjaar ’n forensiese ondersoek van die nasionale tesourie versoek het.

“Ons het nog nie die verslag ontvang nie, maar blykbaar het die provinsiale departement van samewerkende regering dit. Ek vermoed politici word in die verslag betrek.”

Die ANC hou vyf van die 11 setels, die EFF drie, en die DA, VF Plus en die Siyathemba-gemeenskapsbeweging (SGB) een setel elk in die raad.

Volgens Jonas, ‘n SGB-lid, het die SGB en ANC ooreenkomste om mekaar se kandidate in die Thembelihle- en Siyathemba-munisipaliteit in Prieska as burgemeesters te verkies. Jonas het egter teen sy party se voorskrifte nie vir Mpamba as ANC-burgemeesterskandidaat gestem nie, maar saam met die DA en die VF Plus vir die EFF se Makena. Jonas en Makena is later onderskeidelik as speaker en burgemeester ná ’n chaotiese raadsvergadering in Desember 2021 uit die kussings gelig. Nadat hulle die hof genader het, is hulle heraangewys.

Die nasionale tesourie sê in ‘n geskrewe reaksie hulle kon nie hul forensiese verslag op 23 September by ’n raadsvergadering voorlê nie omdat daar nie ’n kworum was nie. Hulle wag op ’n nuwe raadsvergadering om die verslag voor te lê.

Volgens Galaletsang Mfecane, woordvoerder van die provinsiale tesourie, het hulle nooit ’n versoek van Jonas ontvang om ’n forensiese ondersoek te doen nie.

“Toe die nasionale tesourie ons inlig, het ons en die departement van samewerkende regering vanweë die openbare belang saamgewerk. Abraham Vosloo, LUR, en dr. Moses Gasela, departementshoof, wil korrupsie wortel en tak uitroei.”

Babalwa Mzambo, provinsiale woordvoerder van die departement van samewerkende regering, sê die tesourie moet die verslag aan die munisipale raad oorhandig omdat hulle die ondersoek versoek het.

“Ons was nie deel van die ondersoek en is nie in besit van die verslag nie. Daarom kan ons nie kommentaar lewer nie, maar sal ons deur die aanbevelings laat lei.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article