Twee spanne van die Laerskool Wrenchville het spogvertonings in die onlangse Moolman-sokkertoernooi, wat by die Laerskool Kathu beslis is, gelewer.
Die o.12- en die o.14-seunssokkerspan het ’n opskudding veroorsaak toe albei vir die eindronde van die toernooi op 16 en 17 September kwalifiseer het.
Nie net het die o.12’s al hul wedstryde tydens die toernooi gewen nie, maar hulle het boonop die span van die Laerskool Kathu met 4 – 2 in die eindstryd, deur middel van ’n doelstryd, verslaan.
Die o.14’s het ná ’n naelbyteindstryd met ’n telling van 3 – 4 die knie voor die Laerskool Kuruman gebuig.
Hierdie wedstryd het met 2 – 2 geëindig, en is daarna deur middel van ’n doelstryd besleg.
Die trotse skoolgemeenskap van Wrenchville-nedersetting wens die spanne sterkte en sukses met hul oorblywende ligawedstryde toe.





