Die Defence Force Collegians (DFC) van Upington het Saterdag (01/10) die seisoen met ’n sege geëindig in ’n wedstryd teen die Eersterust-rugbyklub van Pretoria, waartydens hulle om die Cassiem Louw-gedenkbeker meegeding het.
DFC-voorsitter, Lukas Esau, sê die klub se sukses in slegs sy vyfde bestaansjaar is te danke aan goeie administrasie en afrigting, asook sy klubspelers en bestuurslede se goeie dissipline.
Die DFC se eerste XV-tal-span het Eersterust met 41 – 13 geklop.
Die puntemakers was Wihann Hendricks, Wally Olivier, Anwill du Plessis, Sharief Adams, Jacquin Basson en Morné Block met drieë, terwyl vier doelskoppe en ’n strafskop deur Joe-Lythen Willemse aangeteken is.
Die DFC se tweede XV-tal-span het die Peruvians van Boegoeberg met 21 – 8 geklop.
Van die trofeë wat die DFC in die 2022-seisoen verwerf het, is dié van die Kalahari Drie Nasies, die ZFM- eerste liga, die Upington Dorp 10s, asook die Cassiem Louw-gedenkbeker.
Cassiem Louw was ’n haker wat in die 1980’s vir die Upington Collegians-rugbyklub gespeel het. Hy het in die 1990’s na Pretoria verhuis, waar hy hom by die Eersterust-rugbyklub aangesluit het – vir wie hy ’n hele paar jaar, tot sy aftrede, gespeel het.
Hy is in 2016 oorlede.
In 2017 was sy oudste seun, Ashley, wat in Upington bly, een van die stigterslede van die DFC. Cassiem se jongste seun, Rob, wat in Pretoria woon, speel al langer as ’n dekade vir die Eersterust-rugbyklub.
Die twee klubs, onder leiding van die twee Louw-broers, het ’n rol daarin gespeel om die klubs se goedkeuring te kry om jaarliks om die Cassiem Louw-gedenkbeker mee te ding ter ere van hul pa wat baie gedoen het om rugby te bevorder.
Rob het 130 wedstryde vir Eersterust gespeel en het Saterdag sy laaste klubwedstryd in sy geboortedorp kom speel. Dit was ook die laaste keer dat hy die Eersterust-span as kaptein aangevoer het.
Die DFC bedank Eersterust en die Peruvians vir die dag se deelname, en Lukas het sy dank uitgespreek teenoor al die borge wat die klub ondersteun.





