Maria Sehere, wat die Khutlwanong-sopkombuis in Galeshewe saam met twee ander vroue bedryf, sê hulle maak planne om die gereelde watertekorte in Kimberley te bowe te kom. Al beteken dit hulle moet van 06:00, en soms tot 20:00, werk.
Sy en tien ander vroue het die sopkombuis 20 jaar gelede by die stortingsterrein met hul eie potte en stowe begin. Vandag word hulle geldelik deur die departement van maatskaplike ontwikkeling ondersteun.
Soggens wag bejaardes, jong mans en meisies, asook mense met gestremdhede, met roomys-, ou margarien- of ander bakke voor die gebouekompleks en vraghouer waarin die kombuis is, in ’n ry.
Marcia Mawelela, die administrateur van die sopkombuis, skryf die honger mense se name vanaf hul identiteitsdokumente neer. Die inligting word maandeliks in ’n verslag vervat wat by die departement ingedien word om die uitgawes uiteen te sit.
Intussen wag almal kwetterend dat die kos in die reusepotte op die gasstoof gaar is. Hulle is geduldig, want dit is nie asof enigeen ’n permanente werk nie.
Die sweet loop teen Sehere en Margaret Khumalo se voorkoppe af. Hoewel hulle ’n wasbak in die beknopte ruimte het, waag hulle dit nie om die kraanwater te drink nie – te veel kry diarree of maagkrampe daarvan.
“Ons moet drinkwater koop; nie dat ons dit kan bekostig nie. Ons sê vir die mense hulle moenie van die kraanwater drink nie.”
Die water is soggens, wanneer die Sol Plaatje-munisipaliteit die watertoevoer na die nagtelike afsluiting herstel, bruin.
“Ons moet vroeër inkom en die water ’n uur lank laat loop totdat dit skoon is. Smiddae moet ons die potte en emmers met water vul sodat ons nie onverhoeds betrap word nie.”
Soms maak hulle eers om 20:00 klaar, wanneer die skottelgoed gewas is. Benewens waterprobleme word daar gereeld by die kombuis ingebreek en potte en bedrading gesteel. Die koperwaterpype is ook al gesteel. Hulle benodig permanente sekuriteitswagte.
Die spyskaart vir die weeksdae sluit rys en hoenderkerrie, vetkoek en sop, pap en sopbene of vis in, en Vrydae is dit spaghetti-sop met groente. Vandag kook hulle stampmielies en sop, waarvan elkeen in die ry ’n liter in sy of haar bakkie kry. Vir die meeste is dit die enigste ete vir die dag.
“Die ander kom vroeg om voor die skool uit te kom by die huis te wees om die kinders te voer. Wat hulle naweke eet, wanneer ons af is, weet ek nie.”
Maria en haar twee kollegas kry maandeliks ’n toelaag vir hul werk.
Net ’n paar dae tevore het pres. Cyril Ramaphosa die stad besoek om huise aan die menigtes te beloof. ’n Keurige driegang-ete vir baie belangrike persone is in ’n konferensiesaal voorberei, maar die president is vort sonder dat hy aangesit het.
- Sehere sê skenkings van kosprodukte is meer as welkom. Bel haar by 076-345-9414.





