Een van die sonkragstraatligte wat deur die AfriForum-tak van Upington opgerig is.

Foto: Verskaf

Die Upington-tak van AfriForum het onlangs nuwe straatligte in die strate van die Dawid Kruiper-munisipaliteit opgerig omdat die huidige ligte nie meer hul doel dien die oomblik dat die son sak nie.

Weens die donker strate is daar boonop ’n toename in misdaad.

Die tak het vier sonkragstraatligte op pale van 6 m hoog op private eiendom in Olyvenhoutsdrift opgerig.

Die ligte is doelbewus op hierdie eiendom opgerig om te voorkom dat die munisipaliteit dit verwyder.

Die ligte skyn op die straat en werk met ’n dag-nag-skakelaar.

Die foutiewe straatligte is al menigte kere by die inbelsentrum van die munisipaliteit aangemeld, maar sonder dat by die kwessie ingegryp is.

Die munisipaliteit se tegniese afdeling pak die skuld op beurtkrag: Omdat die dag-nag-skakelaar weens beurtkrag beskadig word, skakel die munisipaliteit eerder die straatligte af.

Indien hierdie skakelaar sou uitbrand, brand die straatligte gevolglik net in die dag.

Volgens Werner Strauss, AfriForum-distrikskoördineerder vir die Kalahari, beplan die Upington-tak om die straatligprojek ook in ander woonbuurte te bedryf.

Die organisasie sal met die gemeenskap daaroor kommunikeer.

Vir inligting stuur ’n e-pos na werner.strauss@afriforum.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article