Deursigtigheid, en dat elkeen wat hulp nodig het se menswaardigheid behou word, is deel van die suksesresep van die Solly’s Beacon of Hope Foundation in Upington.
Hoewel Solly’s Beacon of Hope nog nie eens drie jaar bestaan nie, is dié organisasie welbekend in Upington. Dié geregistreerde nie-winsgewende maatskappy (NPC) is vir die 32ste maand as ’n sopkombuis in Millenniumpark in Rosedale bedrywig, en sal in Augustus reeds twee jaar ’n geregistreerde liefdadigheidsorganisasie wees.
Die doel is om minderbevoorregtes in Upington en die omliggende gebied te ontwikkel, klee en voed.
“Ons sien die nood in Upington en ons help waar ons kan, want die nood is groot. Die nood is baie groot. Wanneer mense ons vir hulp vra, vra ons nie wat hul verbintenis is nie,” sê Solly van der Berg, ’n stigterslid.
Hy beklemtoon dat elkeen wat om hulp vra, se waardigheid behou word.
Van der Berg en sy vrou, Liza, is die hoofbetrokkenes. Hoewel sy nie ’n stigterslid is nie, is dit sy wat grootliks meehelp dat meer as 200 mense twee maal per week voedsame etes uit die sopkombuis kry. Brenda van Rooyen, Lisbeth-Ann de Klerk en Mervin Goeieman werk ook by die sopkombuis.
Van der Berg vertel dat een van die etes per week, hetsy op ’n Dinsdag of ’n Donderdag, ’n gekookte maaltyd is. Die ander ete bestaan uit vetkoeke met kerriemaalvleis, bedien met ’n vrugtesap of sop.
Om dié etes vanaf hul eie huis te kan bedien, word elke Maandag en Woensdag aan die kosvoorbereiding afgestaan, wat ook die bak van meer as 400 vetkoeke insluit.
Met skenkings en hulp is hul kombuis wel vergroot om so ’n groot hoeveelheid kos te kan voorberei en te bedien. Hulle sal ook wil sien dat elke wyk in Upington ’n sopkombuis kry, juis omdat die nood so groot is.
In die ZF Mgcawu-distrik is ongeveer 35 geregistreerde sopkombuise wat staatshulp ontvang, waarvan ’n klein hoeveelheid werklik funksioneer. Solly’s Beacon of Hope se sopkombuis wat geen staatshulp ontvang nie, is geheel en al van privaatskenkings afhanklik. Oor die minder as drie jaar is ’n goeie verhouding met talle individue en besighede in Upington opgebou by wie hulle skenkings ontvang. Per geleentheid verskaf Solly’s Beacon of Hope kosprodukte sodat mense dit by hul eie huise kan voorberei.
“Dit is nie so dat mense nie wil werk nie,” sê hy.
Volgens hom is dit slegs ’n baie klein persentasie mense wat regtig nié wil werk nie; vir die res is daar nie werk nie.
Solly’s Beacon of Hope het in November 2021 begin nadat Van der Berg, voorheen ’n vragmotorbestuurder, self werkloos was. Ná ’n katarakoperasie kon hy nie meer met dié werk voortgaan nie. In dié tyd het hy met twee Suid-Afrikaanse vroue wat in die mediese veld in die Verenigde Koninkryk werk, op Facebook kennis gemaak. Dié vroue ken mekaar nie, maar albei het skenkings aan hom gemaak. Hy en sy vrou het die helfte van die skenkings gebruik om vir minderbevoorregte mense in die straat sop te kook, en só het die sopkombuis ontstaan.
Op die organisasie se aktiewe Facebook-blad word elke skenking en borgskap gelys, en word die skenkers bedank.
“Oor alles wat inkom, is ons deursigtig,” bevestig Van der Berg. Soos wat die behoefte ontstaan, deel hulle ook klere, beddegoed, skoolbehoeftes en meer uit.
“Die Here werk wonderlik,” sê hy.
Besoek Solly’s Beacon of Hope Foundation new op Facebook vir meer inligting.





