Die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley word van alle kante in die hof gepak oor die riool- en varswaterlekke wat Kamfersdam, noord van die stad langs die N12-roete, die afgelope 15 jaar tot ondraaglike hoë vlakke laat styg het.
Benewens omliggende plase word die hoofpad en twee treinspore deur die besoedelde watermassa bedreig.
Die regstappe kom nadat Brenda Booth van Northern Cape Ranchers CC (NCR) die hof genader het om ’n gestruktureerde oorsigtelike interdik te bekom waarin die hof die munisipaliteit dwing om ’n regrukplan op te stel en die munisipaliteit gereeld verslag aan die regter moet doen oor die inwerkingstelling van die regrukplan.
Die DA het vandeesweek aangekondig dat hy by die NCR-hofsaak as vriende van die hof aansluit.
Anthony Wyngaard, senior regsbeampte van die Menseregtekommissie (MRK), sê interne voorleggings word gedoen vir ’n besluit om as vriend van die hof by die geding aan te sluit.
In haar beëdigde verklaring voer Booth aan dat die besoedelde water van Kamfersdam die wildplaas teen ’n vinnige tempo verswelg. Die damoppervlak het van 400 ha tot 700 ha toegeneem wat die landbougebruik met 70% verminder. Dit is ’n gesondheidsgevaar vir diere en mense en bevorder die verspreiding van bakterieë, virusse en protosoë.
Sy het die water onafhanklik laat toets, wat onrusbarende vlakke van e.Coli-inhoud toon. Haar toetse is bevestig deur toetse wat Birdlife SA ook gedoen het.
Haar interdik-aansoek is nog nie deur die munisipaliteit teengestaan nie.
Benewens die NCR-hofaansoek, staar die munisipaliteit ook twee ander regsgedinge in die gesig, waaronder ‘n interdik en ‘n strafsaak van die departement van waterwese en sanitasie wat aanvoer die munisipaliteit steur hom nie aan direktiewe wat sedert 2015 uitgereik is nie.
Die regsgedinge het dieselfde beoogde uitkoms – om die munisipaliteit en sy rekenpligtige beamptes aanspreeklik te hou vir die besoedeling van die omgewing en waterbronne, dit reg te stel en te rehabiliteer.
Die water in Kamfersdam vloei uit gebreekte grootmaattoevoerwaterpype en uit die wanfunksionele Homevale-afvalwatersuiweringsaanleg wat aan die kant van die dam geleë is. Die aanleg is in 2013 teen ’n koste van R300 miljoen opgeknap, maar het wanfunksioneel geraak weens swak bestuur.
Kimberley het waterverliese van meer as 50% aan drinkwater wat ’n gevolg is van onklaar waterinfrastruktuur en swak onderhoud.
Delmaine Christians, DA-LW, sê hulle snoer graag kragte saam met die ander belanghebbendes om as vriende van die hof by die geding aan te sluit.
“Die DA veg al jare dat die stad se rioolkrisis opgelos word. Ons het klagtes by die MRK ingedien, veral oor die skending van menseregte van inwoners van White City vir die verlies van behuising weens riool. Ons het ook ’n klagte ingedien oor die skending van Platfontein-inwoners se regte op ’n veilige en higiëniese omgewing.
“Ons jarelange pogings om druk op Sol Plaatje te plaas om hul rioolgemors te bestuur, insluitend klagtes aan die munisipaliteit, departemente van samewerkende regering en water en sanitasie, die Groen Skerpioene en die MRK, het op niks neergekom het nie.”
Sy is hoopvol dat die belanghebbendes se samewerking “ons as ’n kollektief ’n beter kans gee om Kimberley se sanitisasie-afdeling deur wetlike prosesse te dwing om hul werk te doen”.




