Op die lessenaar lê 48 koerante; die 49ste en laaste een vir vanjaar is byna daar.
Dit was 49 keer se wik en weeg oor “die koerantjie” se voorbladberig, sportberigte, en alles tussenin.
Besluite oor hoe al die nuus ingepas moet word: Wat moet weggelaat word? Wat moet eerste, of laaste, of slegs op die koerant se nuuswebwerwe en Facebook-blad gebruik word? Dit was 49 keer se balanseertoertjies weens die skielike inkom of uitval van advertensies.
Te midde van die wik en weeg is gewonder waar vind jy ’n halfuur om nog ’n nuusverklaring van duisend-plus woorde tot ’n sinvolle 250 woorde te verwerk.
Waar is nog ’n paar minute om iemand te kontak, en weer te kontak: Gee asseblief tog die name en vanne van die mense op die foto?
Waar is die ekstra uur of twee om ’n persoonlike onderhoud te voer? Waar pas jy ’n uur of twee se ononderbroke minute in om daarna ’n sinvolle berig te skryf?
Tussen watter syfers op die immertikkende horlosie gaan die gulsig-vretende bek van die digitale platforms gevoer word? In watter ure gaan die nimmereindigende e-posse en WhatsApp-boodskappe deurgegaan word?
Soms is daar pure donkiewerk, maar ook dit moet gedoen word.
Tyd is aan oproepe afgestaan: Bruikbare inligting is ontvang; soms word die media as skarminkels uitgekryt. Ander kere, gewoonlik van iemand wat ’n donkie se been afpraat, word van die media verwag om onopgeloste persoonlike sake binne ’n oogwink en in een berig op te los, en dit gou op ’n Sondagoggend, asseblief.
Daar was dae van beheer, beplan, take presies gelys.
Dan word ’n kind ontvoer; iemand doodgeskiet; ’n dringende nuuskonferensie belê (waar die belangrike amptenaar meer as ’n uur laat opdaag) en jou dag val op sy kop.
Intussen raak jy sat vir mense wat kommentaar op digitale berigte skryf terwyl hulle ooglopend nie die berig gelees het nie; jy raak óp vir mense wat aanstootlikhede kwytraak.
Ná 49 keer se gebeur die opdraende uit, met ’n karretjie waarvan die wiele sy eie wil op die stofpad het, is jy so moeg soos ’n vaaldonkie. Jy smag na water en ’n koelteboom.
Ons sal volgende jaar weer inspan.




