Die Oranjerivier by Upington in die Noord-Kaap verskaf water aan etlike ander dorpe in die provinsie.

Foto: Anena Burger

Monitering van die Oranjerivier moet by die werksaamhede van die nuutgestigte Vaalrivier-teenbesoedelingsforum ingesluit word.

Só versoek die DA in die Noord-Kaap die departement van water en sanitasie (DWS), nadat die department watergebruikers langs die Vaal- en Hartsrivier oor die teenwoordigheid van cholera in die water ingelig het.

Die samevloeiing van die Vaal- en Oranjerivier vind by Douglas plaas, van waar dit net as die Oranjerivier bekendstaan.

In ’n verklaring sê Harold McGluwa, LPW en DA-leier in die Noord-Kaap, dat die party lank reeds vir optrede teen die besoedeling van die Vaalrivier vra.

In 2021 het die party ’n strafregtelike klag teen die Magareng-munisipaliteit gelê oor die besoedeling van die Vaalrivier deur Warrenton se ontoereikende afvalwatersuiweringsaanleg, en in 2022 sy kommer uitgespreek oor die besoedeling van die Vaalrivier deur die rioolmeer langs die R31 tussen Kimberley en Barkly-Wes.

Die party het ook in 2022 strafregtelike klagte teen die Renosterberg-munisipaliteit ingedien weens rou riool wat in die Oranjerivier by Vanderkloof vloei.

Oor die jare heen is voorvalle van riool wat in die Oranjerivier by Upington invloei herhaaldelik by die DWS, die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en die Groen Skerpioene aangemeld.

Onlangs het die party kommer uitgespreek oor moontlike besmetting van die Oranjerivier in die Onseepkans-gebied.

“Die DWS moet ons bekommernisse nou ernstig opneem en nie wag dat ’n tweede krisis ontwikkel nie,” sê McGluwa.

Hy sê die Noord-Kaap se hoofwaterbronne, die Vaal- en Oranjerivier, moet tot elke prys gerehabiliteer en beskerm word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article