Die Gamagara- plaaslike munisipaliteit se voortgesette versuim om sy verpligtinge ingevolge Eskom se skuldverligtingsprogram na te kom, hou gevolge vir dienslewering in, en kan daartoe lei dat R387 miljoen se skuldverligting van die nagenoeg R676 miljoen verbeur word.

Na aanleiding van die voortgesette versuim, het AfriForum ‘n skrywe aan die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en die Noord-Kaapse provinsiale tesourie gerig om die kritieke geldelike en operasionele tekortkominge in dié munisipaliteit te takel.

“Die voortdurende gebrek aan reaksie van die Gamagara-munisipaliteit is nie net ‘n aanduiding van die mislukking in bestuur nie, maar beïnvloed die gemeenskap se regte,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder in die Karoo.

Intussen het Anna-Marie Caetano, DA-raadslid by die munisipaliteit, gesê sedert Gamagara in Desember 2023 tot die skuldverligtingsprogram toegetree het, is weinig erns daarvan gemaak.

Indien Gamagara nie sy nie-nakomingskwessies met Eskom aanspreek nie, sal die skuldverligting van R387 miljoen verbeur word.

Die voortsetting van nie-nakoming kan daartoe lei dat Eskom streng kredietbeheer sal afdwing, met die inwerkingstelling van beurtkrag vir die munisipaliteit, wat inwoners en ondernemings verder sal belas.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article