As jy iemand aan jou kant moet kry, is dit AO Narinda Wiid, die polisie se nasionale vroue-aanvalsgeweer-skietkampioen vir 2022 en die vyfde beste skut in Suid-Afrika.
Die aanvalsgeweer-skietkompetisie waarin dié Noord-Kapenaar so goed presteer het, is Augustus in Bloemfontein gehou.
Wiid, wat in die Hopetown-polisiekantoor se misdaadstatistiek-afdeling werk, het haar in 1995 as reservis by die polisie aangesluit en haar kollege-opleiding in 2001 voltooi. Sy werk sedert 2003 in die Hopetown-polisiekantoor en is sedert 2005 ’n lid van die polisie se Noord-Kaapse aanvalsgeweer-span.
“Ek is baie opgewonde oor my eerbewys. Dit is die eerste keer dat ek so goed vaar,” sê sy.
“Ek is ook vir die nasionale A-skietspan gekies, en my mikpunt is om volgende keer die Protea-span te haal.”
Die polisie het haar die geleentheid gegee om haar skietvernuf, ’n vaardigheid wat sy by haar pa as kind op die plaas naby Hopetown aangeleer het, te slyp en aan kompetisies deel te neem.
“Deelnemers skiet met R4-sportvuurwapens in drie afdelings. Die B-afdeling is vir beginners en die A-afdeling vir meer ervare oopvisier-skuts.
“Die X-afdeling, waarin ek deelgeneem het, is vir skuts wat met optiese teleskope skiet – dit is die strafste van die drie afdelings.
“Mans en vroue neem in alle afdelings teen mekaar deel, en die afdelings teen mekaar, in die loop van die kompetisie – wat drie dae duur. Elke deelnemer versamel punte oor die drie dae, en die 100 topskuts uit die A-, B- en X-afdeling neem op die vierde dag in die eindronde teen mekaar deel.
“Elke deelnemer moet sy of haar puntestand verder opbou. Dit laaste dag se verrigtinge bestaan uit vier wedstryde.
“Ek het uit 147 skuts in die algehele vyfde plek geëindig en is as die vrouewenner gekroon. Daar is ook wenners in byvoorbeeld die veteraan-, meester- en ander afdelings.”
“Die Noord-Kaapse span het uit 12 lede bestaan, en saam met drie van my manskollegas het ons die Polisiekommissarisbeker gewen.”
Wiid is in die polisie se A-skietspan ingesluit wat in 2023 aan ’n kompetisie vir al die provinsies sal deelneem. Dit is nog nie bekend waar dit aangebied sal word nie.





