Gereed om sop en toebroodjies uit te deel tydens die onlangse skoonmaak-aksie in Kenhardt is, van links, Deon Keffers, Madalene Buys, Johann Hugo en Rina Carstens.

Foto: Verskaf

Tydens ’n onlangse skoonmaak-projek in Kenhardt, waar ’n vol vullissak vir ’n koppie sop en ’n broodjie geruil is, is sakke vol rommel in dié dorp opgetel.

Die ACVV-tak van Kenhardt, in samewerking met lede van die gemeenskap, het dié projek vir Saterdag 24 Augustus gereël.

“Ons is opgewonde om dié projek meer gereeld te doen,” sê Madalene Buys, en vertel dat dit uiters suksesvol verloop het.

“Saam kan ons Kenhardt skoner, groener en mooier maak, en saam kan ons ’n positiewe impak op ons omgewing en gemeenskap hê,” sê sy.

’n Vrag sakke, waarvan die rommel by Rooiblok opgetel is, is onder toesig van Christa Stander verbrand. Die Kai !Garib-munisipaliteit het die vullisverwyderingsvragmotor in die woonbuurt beskikbaar gestel waar ongeveer 100 sakke rommel opgetel en verwyder is. Hier het Elmy Kunz, onderwyser aan die Hoërskool Kenhardt, en Nicoleen Presence, skoolhoof van die Laerskool Kenhardt, toesig gehou.

By van die kinders wat gehelp het om vullissakke in Kenhardt te vul is, van links, Kathy Mouton, Maureen Losper en Mandie Goliath.

By die koshuis het Deon Keffers, skoolhoof van die Hoërskool Kenhardt, toesig gehou en het Johann Hugo ’n voertuig met sleepwa beskikbaar gestel om die 88 sakke rommel weg te ry.

Stander het ook gehelp om sop en broodjies uit te deel. Sy het ook een van die potte sop gemaak, en Suzette Wickens van die Kenhardt Hotel nog ’n pot, en so ook Buys, asook Yulandie Nel.

Rina Carstens, wat van die gesmeerde brode geskenk het, het met die verspreiding van die leë vullissakke gehelp en ook broodjies uitgedeel.

Die ACVV-tak van Kenhardt bedank elkeen vir sy hulp en besondere bydrae, en beklemtoon dat só ’n projek weer in die nabye toekoms aangepak sal word.

Vragte vol gevulde vullissakke wat onlangs in Kenhardt deur gemeenskapslede gevul is, is weggery.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article