Verskeie hoogtepunte is by die Laerskool De Aar beleef toe R1,7 miljoen se verbeteringe in Februarie by die skool in gebruik geneem is.
Dié verbeteringe is moontlik gemaak deur geld wat die afgelope paar jaar deur die skool se geldinsamelingsprojekte verkry is en deur die skoolbeheerliggaam (SBL) gespaar is om dit kontant te betaal. Die skool se borge, ouerondersteuning en sy aanbieding van die Wildsprojek en die BUZZZ-fees het hiertoe bygedra.
“Dit is belangrik dat ouers, borge en die gemeenskap weet wat met dié geld gedoen word,” sê Pieter le Roux, skoolhoof.
Met die beplanning van die verbeteringe was die voordeel wat die leerlinge en personeel daaruit kon trek, hoofsaak.
Die opknapping en verbetering van die tennis- en netbalbane is vir R250 000 gedoen. Dit is voorheen in 2012 gedoen. Die leerlinge kan nou die beste baanoppervlakke moontlik geniet, en die netjiese bane dra tot die netheid van die skoolterrein by. Geld wat van die Nasionale Lotery-kommissie ontvang is, het ook hier gehelp.
Sedert die skoolgebou in 1996 in gebruik geneem is, was daar nog nie geleentheid om die personeelkamer en -badkamers op te knap nie. Die vloermat, teëls, verfwerk en houtkassies was gehawend, en die aantal personeellede het boonop intussen vermeerder. Heelwat dinkwerk is gedoen, en aanvanklik is beplan om die personeelkamer te vergroot, maar weens die hoë koste het die SBL besluit om dié opknapping op ’n kleiner skaal te doen en eerder van die geld te gebruik vir die aankoop van skoolbussies.
’n Personeelkomitee het duursame materiaal en tydlose kleure gekies, en die finale prentjie is stylvol en gebruikersvriendelik. Sover moontlik is plaaslike verskaffers en kontrakteurs gebruik.
Die skool is baie trots op die twee nuwe 16-sitplek-Toyota-bussies wat in gebruik geneem is. Een van die skool se BUZZZ-borge, OVK, het dit teen kosprys deur De Aar Toyota aan die skool voorsien. Die algehele koste van die bussies was nagenoeg R1,2 miljoen. Die bussies is toegerus met ’n goeie klankstelsel, lugversorging en sleephak. OVK het as naamborg toegetree en borg dié twee bussies en die ander bussie vir die volgende drie jaar.
Drie watertenks is ook aangebring om die waterbergingvermoë tot 65 000 liter te verbeter.
’n Nuwe naambord is by die hoofingang opgerig, wat ’n verwelkomende gevoel skep.
Die uitgawe vir dié kleiner verbeteringe was R30 000.


