’n Naweek van vermaak en feesvieringe vind eersdaags by die Laerskool De Aar plaas, met sy Buzzz-fees en eeufeesverrigtinge.
Leerlinge, ouers en die gemeenskap word genooi om van 3 tot 5 Oktober deel hiervan te wees.
Dit begin die Donderdag met ’n dankdiens vir leerlinge en ouers, gevolg deur onder meer ’n boomplantseremonie en verjaardagpartytjie.
Die Vrydagoggend kan leerlinge in bakkie-trek meeding, asook in verfbal en ’n kleurpretloop, met ’n kaskarwedren as hoogtepunt. Die terrein open om 14:00, en waterglybane en ’n verfbalbaan is deel van die pret.
Dié aand maak Wouter van de Venter en sy Hippie Band musiek. Ouers wat dit bywoon, word uitgedaag om klere eie aan die hippie-kultuur aan te trek. Ouers kan ook iets saambring om in die tydkapsule te plaas wat oor 50 jaar oopgemaak gaan word.
Bywoning van die verrigtinge, wat die musiekvertoning en ’n driegangmaaltyd insluit, kos R150. ’n Snoepie en ’n kontantkroeg sal oop wees.
In dieselfde tyd kan voorskoolse en laerskoolleerlinge wie se ouers die verrigtinge bywoon ’n optrede in die skoolsaal deur Sonja Herholdt en Tjokker, en ook ’n fliekaand, geniet – daar sal toesig wees. Toegang kos R50.
Die Geneco Repo-duiweveiling in samewerking met die De Aar-posduifklub vind ook op dié aand plaas. Groot prysgeld is op die spel.
Die Saterdag se verrigtinge begin om 08:00 met ’n toutrektoernooi en veerpyltjie- en skietkompetisie, onder toesig. Die hele dag sal waterglybane en die verfbalbaan beskikbaar wees.
Ses vermaaklikheidskunstenaars tree van 15:00 tot ná 22:00 saam met plaaslike talent op. Dit sluit in GenT en Hannah E, Leandro de Carvalho, Anke van der Westhuizen, Piet Pompies, Samantha Leonard, Ruhan du Toit, Franja du Plessis en Prince Rajabu. ’n Kroeg, kosstalletjies en ’n braaivleisstalletjie sal deurentyd hul produkte verkoop.
Dié naweek is ’n geldinsamelingsprojek vir die skool. Besoek Laerskool De Aar Primary op Facebook vir inligting.


