Hy is as “Galeshewe se skilder” bekend, en het van kleins af met sy vinger op die grond geteken.
“My hand het gejeuk; ek wou net teken,” vertel Henry Lekwate (84) in sy huis in Vergenoeg, Kimberley.
Van sy kunswerke oor die jare heen het ’n ereplek teen die mure gekry; van die ander is spesiaal vir die besoek uitgepak.
Met kleur, die vasvang van beweging, en detail wat fyn waarneming weerspieël, het Lekwate sy hartsgoed met olieverf op hoofsaaklik hardebord verewig.
Kimberley se Groot Gat en treine – dit was nog altyd sy gunsteling-onderwerpe om te skilder. Ook die skilderye van sy waarnemings van openbare geboue, kerke, busse en plekke wat hy en sy vrou, Sylvia, al besoek het, vertel elk ’n eie storie én gee geskiedenis weer.
“Ek het die skilderye baie lief,” vertel Lekwate. “Ek voel gelukkig as ek die kwas in die hand het. My hand is nog gesond. My oë is reg. My gedagtes is nog reg.”
Lekwate, wat tot die destydse st. 8 skoolgegaan het, het ná skool tydelik in Johannesburg gaan werk, waarna hy teruggekeer het na Kimberley om by die spoorweë te werk.
Hy kon nie anders as om terug te keer Kimberley toe nie.
Vir die sewe jaar wat hy by die spoorweë gewerk het, het hy om 03:00 opgestaan en kort daarna Beaconsfield toe begin stap om 07:00 by die werk te wees. Ná werk het hy weer teruggestap.
“My pa het nooit met busse of taxis gery nie. Hy het net geloop,” vertel sy dogter Deborah.
In 1977 het hy besluit om sy werk by die spoorweë op te gee om op sy skilderwerk te fokus, en het homself as ’n pastoor bekwaam.
Hoewel hy gelukkig gevoel het om meer te kon skilder, het die feit dat hy nie ’n voertuig gehad het nie, die verkope van sy werke bemoeilik.
Maar dit het hom nie gekeer om steeds sy liefde vir skilder uit te leef nie.
Hy het baie huise beskilder; en ook muurskilderye en geestelike skilderye gedoen – onder meer baniere en vlae vir kerke en verenigings.
Lekwate verf ook wat hy noem “spirituele lappe” waar hy ’n persoon se droom wat aan hom vertel is, weergee. Dit koppel hy dan altyd aan ’n Bybelteks.
Om homself as geestelike leier te bekwaam, het hy drie Bybelskole bygewoon: die eerste een was die destydse Kimberley Bible Training School, daarna een in Oos-Londen, en toe in KwaZulu-Natal.
As ’n pastoor het hy en Sylvia bykans oor die hele land met treine en busse rondgery.
Tydens dié reise het hy in sy boekie sketse gemaak van wat hy gesien het om later te skilder.
Wanneer hy besig is om te skilder, sien hy egter die prentjie in sy gedagtes.
Deborah vertel as haar pa teken, is hy binne in die plek wat hy teken, en hy werk met toegewyde aandag.
Sy aanvanklike skets of die buitelyne sal hy met vuurhoutjiestokkies trek.
“Armoede het my nie swak gemaak nie,” sê Lekwate, en vertel van die bord met die woorde “Arm maar tevrede” wat hy vir die voorkant van die huis geteken het, en wat die gesin se motto is.
Hy en Sylvia, wat ’n kunstenaar in eie reg met ’n hekelpen is, het drie kinders – Isaiah, Valerie en Deborah. Hulle het sewe kleinkinders en vyf agterkleinkinders.
Lekwate se raad vir jonger geslagte is: “Wees gelukkig in die lewe en doen wat jy moet doen wat goed is. Moenie kwaad doen nie.
“Vra die Allerhoogste om te help. As ons nie die Here vra nie, sal ons niks kry nie.
“Die lewe is reg. Ek voel gelukkig. Ek moet die een daar bo dankie sê. Hy het ons gespaar,” sê Lekwate, en neem sy verfkwas op.





