Niebederfbare kosprodukte is verlede week by die Laerskool Eureka in Kimberley aan liefdadigheidsorganisasies oorhandig, in samewerking met Solidariteit Helpende Hand. Van links is dr. Etienne Venter (skoolhoof), Ewie Brevis (matrone van die Sally Aucamp-huis), Lelani Cook, Janco Steinmann, Anri Jansen en Zane Meintjies (leerlinge), Kotie Venter (Solidariteit Helpende Hand) en Christelle Hattingh (bestuurder van die Christina Kiddie-kinder-en-jeugsorgsentrum).

Foto: Charné Kemp

Houers vol niebederfbare kosprodukte is aan die Christina Kiddie-kinder-en-jeugsorgsentrum, en die Sally Aucamp-huis vir volwassenes met fisieke gestremdhede, geskenk.

Dié onlangse skenking is deur Solidariteit Helpende Hand in die Noord-Kaap-streek, in samewerking met leerlinge, onderwysers en ouers van die Laerskool Eureka in Kimber­ley, gedoen.

Dit spruit uit ’n geleentheid vroeg in Mei by die skool waartydens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, oor “Hoop in ons Tyd” gepraat het. Hy het ouers toegespreek en leerlinge in groepe met sy boodskap bemoedig. Niebederfbare kosprodukte is in plaas van toegangs­geld vir die praatjies ingesamel.

Solidariteit Helpende Hand is ’n maatskaplik-gegronde gemeenskaps­ontwikkelingsorganisasie. Die oogmerk is om selfontwikkeling van die mens in sy gemeenskap, en die ontwikkeling van die gemeenskap, te bevorder.

Kotie Venter, koördineerder, en Somé Ferreira, streek- maatskaplike werker by die organisasie in die Noord-Kaap-streek, het die koördi­nering met Sandra Wallis, ’n gr. 7-onderwyser en leerlingraad-koördi­neerder, en ander vrywilligers gedoen.

Die Christina Kiddie-kinder-en-jeugsorgsentrum in Kimberley versorg kwesbare kinders en verskaf onder meer traumaberading, kos en klere terwyl hulle gesinne probeer verenig.

Christelle Hattingh, bestuurder van die sentrum, sê die kos is baie welkom vir die winterskoolvakansie.

“Van ons kinders gaan huis toe na hul gesinne en familie en kan kos saamvat. Danksy die kospakkies kan die families die kinders langer huisves. Die kinders wat agterbly, sal ook dié winter genoeg kos hê. Die wonderlike aspek is dat die skenking van leerlinge aan ons kinders is.”

Evie Brevis, matrone van die Sally Aucamp-huis, sê die kosskenking is baie welkom.

“Dit is wonderlik dat mense vir ons inwoners omgee. Dit is ’n eer om die skenking te ontvang van liefdevolle mense wat omgee. Ons sal van vandag af sop en bredies maak, kos wat ’n mens warm maak.”

‘Gee hoop vir mekaar’

Venter sê Helpende Hand doen projekte ten bate van veral kinderhuise en ouetehuise, asook mense met gestremdhede en gesinne in nood.

“Tydens die geleentheid het Hannes gepraat oor ’n tyd waarin mense met druk uit alle oorde moet saamleef, en hoe ouers seëninge en toekomshoop aan hul kinders moet oordra.

“Vir my was Hannes se boodskap baie inspirerend. Ons wil hoop vir mekaar in swaar tye gee. Indien elkeen uitreik en mekaar help, sal ons baie meer hoop hê.”

Wallis sê hulle is jaarliks by etlike liefdadigheidsprojekte betrokke.

“Omgee is een van die skool se sewe waardes. In die jongste projek is leerlinge bewus gemaak van vrygewigheid en omgee vir ander.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article