’n Kunstenaar wat diereskedelkuns beoefen, en wat geen onbekende op TV is nie, het onlangs die vroue van die Vrouelandbouvereniging (VLV) se Kuruman-tak van dié passie van haar vertel.
Die geleentheid met Chanelle de Jager het op 7 November in die Kalahari Jagters- en Wildbewaringsvereniging se saal buite Kuruman plaasgevind en is deur die VLV-tak se landbou-en-tuinbou-groep gereël.
De Jager was onlangs in Projek Dina te sien, waar sy die rol van twee karakters, die susters Ronel en Dina, vertolk het. Haar akteursloopbaan sluit rolle in onder meer Stroomop, Outlander, Die Boekklub en Egoli in.
De Jager en haar man woon sedert 2019 in die Upington-omgewing, met haar ateljee in die gebou wat eens die Geelkop-poskantoor was. Sy vertel dat dié stokperdjie wat sy sedert 2020 beoefen haar nader aan die natuur laat voel.
Hoewel sy daaraan gedink het om die kunsvorm met ander te deel, het sy haar eerste werkswinkel aangebied eers nadat ’n kliënt haar gevra het om so iets aan te bied. De Jager was verbaas oor hoe gewild dié werkswinkel was, en ook dié wat daarna gevolg het.
Vir haar is een van die treffendste aspekte van die kunsvorm om ’n tweede lewe in been in te kerf.
Vir haar gaan dit daaroor om die inherente skoonheid van die diere, die tekstuur, en die natuurlike grein van die been te vier terwyl ’n mens dit vaardig vorm in ingewikkelde vorms.
“Ek put my inspirasie uit die omgewing, landskappe wat ons bewoon en uit diep respek vir die natuur.”
Met elke kunswerk wil De Jager hê dat die waarnemer stilstaan, nadink en een word met die emosies wat in die kunsvorm is.
Vir haar, in ’n wêreld wat dikwels te vinnig beweeg, dien hierdie kunsvorm as ’n sagte herinnering om stadiger te beweeg en die skoonheid van die natuur te waardeer.
Dit is belangrik dat die skedel op die regte manier skoongemaak word, sodat die been nie bros word nie.
Hiervoor volg sy drie stappe, en sy het later agtergekom dat die taksidermis Ruan Viljoen van Hunter’s Heart in Kuruman dieselfde stappe volg en vir dié rede maak sy deesdae van sy dienste gebruik.
Haar ontwerpe is elk uniek en met die hand uitgekerf.
Tydens die VLV-geleentheid het sy met behulp van twee vrywilligers – Carla Salim en Hettie du Plessis-Krüger – die proses verduidelik en demonstreer.
Een van vier tegnieke kan gebruik word om patrone uit te kerf – wat byvoorbeeld kan uitstaan, insink, of ’n kant-effek hê.
De Jager bied gereeld vyfdag-werkswinkels in dié kunsvorm aan.
Besoek haar webwerf by cdjcarvings.co.za vir meer besonderhede.





