Sewe jaar ná ’n waaghalsige diefstal waarin R36 miljoen by ’n sekuriteitsmaatskappy in Kimberley gesteel is, het sewe verdagtes waaronder twee polisielede, Maandag (29/05) weer in die hooggeregshof verskyn.
Van die verdagtes is voorheen aangekla, voordat die saak van die rol geskrap is. ’n Nuwe ondersoek is gelas, waarna van die vorige en nuwe verdagtes verlede jaar aangekeer is. Die saak is toe van die landdroshof na die hooggeregshof oorgedra.
Die aangeklaagdes is Samuel Jantjies (51), ’n polisielid, Jennifer Claasen (52), Deon Jantjies (42), Hendrik Daniels (41), ’n polisielid, Jean Pierre Wolfaard (32), Conrad Buys (31), wat op waarskuwing vrygelaat is, en Thapelo Sithonga (41), wat op borgtog vrygelaat is.
Die twee polisielede wat eers in ’n ander afdeling was, werk nou by die Galeshewe-hof. Die twee Jantjies-mans is broers. Hulle word van diefstal, regsverydeling en geldwassery aangekla ná die voorval wat op 6 Mei 2016 by die G4S-kantore in North Circularweg in Kimberley gebeur het. Hulle het na bewering voorgegee die geld is in ’n rooftog gesteel.
Die staat voer aan dat William Hartslief die takbestuurder van G4S op die betrokke tydstip was.
Die maatskappy het geld vervoer wat in bankoutomate gebruik is. Die betrokke kontant is oornag in die kluis bewaar.
Op Vrydag 6 Mei om 18:10 het Hartslief die kantoorgebou verlaat toe hy van diens af gegaan het. Claasen was toe aan diens saam met Adriaan Matthewson. Laasgenoemde het omstreeks 19:00 die gebou verlaat om medisyne te gaan koop. Met sy terugkeer was die kragtoevoer afgeskakel waarna hy vir Claasen op haar selfoon gebel het.
Sy het hom versoek om haar te kom help. Hy het oor die muur geklim en die kragtoevoer aangeskakel. Hy het Claasen vasgebind gevind en haar losgemaak. Die geld in die kluis was vermis en die polisie is ontbied. Claasen het beweer sy het ondersoek na die kragonderbreking ingestel toe sy deur onbekende mans oorval is wat die kluis leeggedra het. Die staat voer aan sy het die kragonderbreking doelbewus veroorsaak en met die mans saamgewerk om die geld te steel.
Elkeen van die beskuldigdes het glo ’n rol in die diefstal gespeel en die geld is in Victoria-Wes, Postmasburg en ander onbekende plekke onderling verdeel.
Die voorverhoor sou Maandag begin het, maar Samuel Jantjies het nog nie regsverteenwoordiging nie.
Regter Violet Phatsoane het hom aangesê om so spoedig as moontlik ’n regsverteenwoordiger aan te stel.
Die saak is tot 11 Augustus uitgestel.





