Ter illustrasie

Foto: Unsplash

Suid-Afrika sal waarskynlik nog ’n Covid-19-vlaag beleef – en dit kan reeds volgende maand wees. 

Kenners het vandeesweek gesê gegrond op die patroon van die vorige vyf vlae, is die verwagting dat ’n sesde vlaag die land in September sal tref. 

Dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van die departement van gesondheid, het egter by navraag gesê hulle “bid” dat ’n nuwe vlaag nooit sal kom nie. 

Die regering het op 22 Junie bekend gemaak dat hy ná meer as twee jaar alle oorblywende Covid-19-beperkings, soos die dra van maskers binnenshuis, ophef.

Van 12 September af kan “iets” verwag word, voorspel dr. Angelique Coetzee, kenner van die Covid-19-pandemie. 

“Ons almal wag vir die volgende vlaag. Ons moet onthou die virus het ’n patroon,” sê Coetzee. 

In die verlede was die patroon dat ’n nuwe vlaag sowat drie maande ná die vorige vlaag uitbreek.

Volgens Coetzee is daar baie onsekerheid oor of die verwagte volgende vlaag erger of matiger sal wees.

Dié vlaag kan dalk (soos die matiger vyfde vlaag) deur ’n subvariant van Omikron of deur ’n nuwe variant gedryf word. 

Prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor entstowwe, meen dis onwaarskynlik dat ’n sesde vlaag erger sal wees. 

“Die huidige trajek is dat infeksies al hoe matiger word. Daar is ’n kans dat die virus kan muteer op ’n manier wat dit skadeliker maak, maar dit is onwaarskynlik.”

Hy bly egter bekommerd daaroor dat slegs sowat 50% van die volwasse bevolking in Suid-Afrika ingeënt is. 

Coetzee raai mense met chroniese siektes, wat 55 jaar en ouer is en wat meer as ses maande gelede ’n inenting ontvang het, aan om nou ’n inenting te kry of die oomblik as die infeksies weer begin toeneem. 

Dr. Jo Barnes, epidemioloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US), is bekommerd dat ’n volgende vlaag nie maklik bespeur sal word nie omdat mense hulle nie meer soveel gaan laat toets soos in die verlede nie. 

Sy benadruk naas inentings is die beste wapen teen infeksie om geboue te ventileer omdat die koronavirus SARS-CoV-2 hoofsaaklik deur die lug versprei.
Dr. Jo Barnes

“Ek sien nie dat bou-inspekteurs na winkelsentrums gaan om te bepaal hoe ventilasie verbeter kan word nie.”

Volgens haar wys navorsing dat die lug in die winkels teen 08:00 soggens skoon is, maar dat dit teen die middag swaar met koronavirus-deeltjies gelaai is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article