SAOU beswaard oor swak NK-matriekuitslae ondanks stewige begroting

Henk Brand, provinsiale sekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU).

Foto: Charné Kemp

’n Onderwyskenner meen die Noord-Kaapse departement van onderwys streef ideologie eerder as gehalteonderwys na, en dat dit die oorsaak is vir die “klein” verbetering van 1,6% in die slaagsyfer.

Die Noord-Kaapse slaagsyfer staan op 75,8% die laagste van die nege provinsies, terwyl die nasionale gemiddelde slaagsyfer 82,9% is.

Die formaat van die bekendmaking van die provinsiale uitslae is vanjaar verander. Voorheen het matrikulante hul uitslae by die skole gekry, terwyl daar ’n vroegoggend ’n kleinskaalse nuuskonferensie by die departement se kantoor was, gevolg deur die prysuitdeling aan die toppresteerders in ’n kerksaal.

Matrikulante van 2023 aan Kimberley-hoërskole moes op Vrydag 19 Januarie na die Mittah Seperepere-konvensiesentrum stroom om hul uitslae te kry. Die konferensiesentrum, langs die Groot Gat-toeriste-aantreklikheid, kan slegs 2 400 mense hanteer.

Dr. Zamani Saul, premier, Zolile Monakali, LUR, en Gideon Oliphant, waarnemende departementshoof, het toesprake gelewer.

Oud-leerlinge is aangesê om ná die toesprake in skoolverband op die galery te wag om hul uitslae in ontvangs te neem, en daarna kospakkies in die voorportaal af te haal. Die meeste skoolverlaters het egter na die voorportaal gestroom, waar amptenare in die gepaardgaande chaos ook gespook het om toegangskaartjies aan genooide gaste na die prysuitdeling te gee.

Groepe leerlinge in die Mittah Seperepere-konvensiesentrum drom om onderwysers om hul matriekuitslae te ontvang. ’n Groot aantal matrikulante van 2023 het egter besluit om eers hul kospakkies te gaan haal.

Buite die gebou was daar ’n hewige verkeersopeenhoping in die parkeerterrein en ’n verkeersknoop in West Circularweg wat voor die sentrum strek.

Henk Brand, provinsiale sekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU), sê hy is beswaard oor die swak slaagsyfer en ander probleme wat hy waarneem.

“Hoe kan die departement uitgelate wees oor ’n verbetering van ’n skamele 1,6%, wat steeds die laagte in die land is. Dit, terwyl die provinsie jare gelede die beste in die land was. Dit was natuurlik in die dae toe daar net een hoofdirekteur was, nou is daar 20 of 30.”
Henk Brand

“Die departement streef ideologie na, eerder as gehalteonderwys. Dit is bewys in die verandering van vanjaar se reëlings.

“Die premier, die LUR en die waarnemende departementshoof het heeltyd die Sadtu-onderwysvakbond vir goeie werk uitgesonder en verwelkom, maar nie na ons en ander rolspelers verwys nie. Terwyl Sadtu waarskynlik goeie werk doen, word ander rolspelers misken, wat opvallend is.

“Natuurlik is dit ’n verkiesingsjaar en die departement en nasionale regering moet goed lyk.”

Brand meen die nuwe formaat van die bekendmaking van uitslae was sinneloos.

Henk Brand, provinsiale sekretaris van die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU).

“Sommige skole het nie eens geweet hulle moet die uitslae by die sentrum uitdeel nie. Dit was ’n duur oefening waarin niks nuut gesê is nie.

Hy sê dis opmerklik dat Saul gesê het ouers moet by skole betrokke wees om te verseker die skool lewer gehalteonderwys.

“Hy kan nie meer korrek wees nie. Die beheerliggaam van ’n skool verteenwoordig die ouers. Dit is hulle wat aanbevelings maak oor wie hulle as die skool-, adjunk- of departementshoofde in die beste belang van die skool op grond van kwalifikasies en ondervinding wil aanstel. Dan draai die departement om en stel ander mense aan met swakker kwalifikasies, minder ondervinding en onbewese leierskap.”
Henk Brand

“Die departement se ideologiese onderrok hang ver uit. Daar is baie goeie onderwysers wat gesorg het dat sekere skole baie goed gevaar het. Ons is egter bekommerd oor die sistemiese verrotting wat plaasvind.”

Die premier sê R8,1 miljard van die provinsiale begroting van R21 miljard word aan onderwys bewillig.

“Ek kan egter nie die positiewe resultate van so ’n begroting in die uitslae sien nie. Daar is ’n merkbare agteruitgang in die skole. Infrastruktuur skiet tekort en onderwysers se moraal is laag.

“Ek is ook onseker of die premier van 13 nuutgeboude skole praat, of is dit bestaande skole wat herstel gaan word. Die skole in Sutherland, Garies en Griekwastad wat lank gelede afgebrand het, is nog glad nie herstel nie.”

Kantoor oorval met ongelukkige onderwysers

Brand se kantoor word oorval met onderwysers wat nie vir Januarie of verlede jaar se salarisse betaal is nie.

“Ek kan nie verstaan hoe ’n amptenaar van sy lessenaar opstaan en daar lê onverwerkte dokumente wat iemand van sy salaris ontneem nie. Die laksheid spoel deur en dit is hoekom die uitslae so swak is.

“Die fakaturelys wat in Augustus bekend gemaak is, het groot onaangenaamheid veroorsaak. Die vyf distrikte het elk hul eie riglyne in die siftingsproses gevolg. Onderwysers sou dus in een distrik ’n kortlys haal, maar nie in ’n ander nie. Hoewel ons amptenare daarop gewys het, en ongeag voornemens om dit reg te stel, is dit nie gedoen nie. Ons weet nie of daar ’n wil is om die administrasie te verbeter nie.

“Politici en amptenare poleer die potplant se blare, maar die potgrond is arm en droog.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article