Politici is nie bang om hul hande vuil te maak nie, wys dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, toe hy onlangs gehelp het om ’n slaggat op die R374-roete te herstel.

Foto: Charné Kemp

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) gaan ’n kantoor in die Noord-Kaap oopmaak.

So het dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, tydens die bekendstelling van die slaggatprojek Vala Zonke (“Maak almal toe”) herstelwerk-veldtogop 8 Augustus aangekondig.

Sanral neem ook binnekort die bestuur van die besige R31-roete en ander roetes van die provinsie oor.

Dié nasionale slaggatprojek is deur Fikile Mbalula, minister van vervoer, bekragtig en alle provinsies en munisipaliteite is aangesê om paaie spoedig te herstel.

Volgens Saul is hy bekommerd oor die aantal swaarvoertuie op Noord-Kaapse paaie.

“Daar is daagliks sowat 2 500 vragmotors op ons hoofroetes wat meesal erts vervoer. Ek het met Transnet gepraat om hul vragvervoer-kapasiteit te verhoog om die druk op ons paaie te verlig.”

Randall Cable, Sanral se westelike streekbestuurder, sê hy is ook bekommerd oor die baie vragmotors op die R31-roete.

Hy is verheug dat Sanral in ’n gevorderde stadium is om verskeie strategiese Noord-Kaapse paaie oor te neem.

“Ons gaan die R31-roete van Santoy tot by Hopetown bestuur, asook ander soos tussen Port Nolloth en Steinkopf. Sanral gaan dus ’n bykomende 1 000 km in die provinsie bestuur, wat die totaal op 4 500 km te staan bring.

“Ons eerste take is om slaggate en afgetrapte skouers te herstel, gras te sny en heinings te herstel. Langtermyn-ingrypings sal volg.”

Hy het padgebruikers aangemoedig om Sanral se toepapp af te laai waarmee slaggate en die ligging daarvan dadelik vir herstelwerk aangemeld kan word.

Volgens Fufe Makatong, LUR van paaie en openbare werke, is ’n kontrakteur pas aangestel om die slaggate en afgetrapte skouers op die R31 tussen Koopmansfontein en Middelpos te herstel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article