Sakkie se Arkie op die Oranjerivier by Upington.

Foto: Facebook/Sakkie se Arkie

Sakkie Spangenberg, eienaar van die immergewilde Sakkie se Arkie-toeristeboot op die Oranjerivier by Upington wat jare lank in ’n ingewikkelde hofstryd oor sy huurkontrak met die Dawid Kruiper-munisipaliteit gewikkel is, versoek dringend vreedsame onderhandelinge.

Dit kom aan die vooraand van ’n hofgeding waarin die munisipaliteit hom beskuldig dat hy die grond Olivierpark “onwettig beset”.

Spangenberg beweer die munisipaliteit het toegelaat dat die voorheen bekende en gewilde Die Eiland- en Gordonia-oord en die Rosepark- en Reitzpark-piekniekterrein verval en gevandaliseer is.

“Sakkie se Arkie is die enigste oorblywende toeriste-piekniekterrein en toeristeboot by Upington langs die Oranjerivier.
Sakkie Spangenberg

“Ek wil die strydbyl begrawe. Ons moet tot wedersydse voordelige en werkbare oplossing kom,” skryf hy in ’n brief aan die raad.

“Die munisipaliteit moet die gemeenskap wys dat hulle hul belange en behoeftes respekteer.”

Hy sê hy het die munisipaliteit vele kere met oplossings genader.

“Een voorstel was om ander persele soos Rosepark en Die Eiland-oord oor te neem vir 50% van die inkomste, maar dit val op dowe ore.”

Hy wou voorheen Olivierpark, vanwaar hy ’n piekniekterrein en die boot bedryf, koop.

Die raad het die versoek geweier en daarvoor laat tender, waarna Spangenberg die hof genader het omdat die verkeerde proses gevolg is.

“Die tenderproses het ná ’n onsmaaklike regsgeding misluk toe die hoër appèlhof met koste teen die raad beslis het. Die hof het bevind die raad moet die tenderproses oordoen. Intussen wil hulle ’n uitsettingsbevel teen my verkry.

“Hulle wil nie onderhandel nie en terugwerkend van 2018 ’n bedrag van R26 000 huur per maand eis. Ek het te midde van die hofgedinge steeds huur betaal, maar ’n amptenaar het gesê hulle gaan dit nie aanvaar nie en het die krediet terugbetaal.

“Dit was onsinnig vir my dat hulle my gestop het om huur te betaal. Toe word ek vir huur gedagvaar wat tien keer meer is as wat ek nou betaal.

“Dit plaas my in ’n baie moeilike situasie, want die munisipaliteit het ’n ander besigheid gratis reg toegestaan oor dieselfde perseel as Sakkie se Arkie. Dit voel onregverdig, want ek moet huur betaal.

“Omdat die munisipaliteit die regskoste moet betaal, verloor die belastingbetalers.

“Indien Sakkie se Arkie die saak oor die uitsettingsbevel verloor en die (terugwerkende) huurgeld moet opdok, is dit die einde van Sakkie se Arkie.

“Die gemeenskap gaan ’n toerismebate verloor, want die munisipaliteit neem nie besluite in belang van die gemeenskap nie.”
Sakkie Spangenberg

Spangenberg se enigste inkomste is met die boot.

Hy mag geen wins op die terrein maak nie, maar onderhou die munisipaliteit se bate op sy koste.

“Die toegangsgeld dra nie eens die elektrisiteit of arbeidskoste nie.

“Ek hoop om elke Paasfees en Kerstyd die onderhoud en arbeid met ’n goeie inkomste te kan dek.

“Tog het ek in 2021 sowat 60% van my inkomste met Sakkie se Arkie verloor omdat die riviervlak te hoog was. Ek het die skade op eie koste herstel.”

Hy pas streng reëls toe soos geen musiek, drankmisbruik en rommelstrooi nie.

“Indien dieselfde reëls by Die Eiland toegepas is, sou dit nog bestaan en ’n bate gewees het wat ’n inkomste verdien.

“Die munisipaliteit het voorheen ’n inkomste verdien uit die Kalahari Kuierfees wat op die nou gevandaliseerde Die Eiland gehou is, maar dit is intussen verskuif.

“Ek het die munisipaliteit altyd gehelp, soos met die skoonmaak van siwwe by die water­onttrekkingspunt, hulpverlening aan nooddienste of opruimingswerk, en die dorp help skoonmaak sonder vergoeding,” sê Spangenberg.

Patrick Williams, munisipale woordvoerder, sê die raad het besluit om die erf op openbare tender te verkoop.

“Mnr. Spanenberg is welkom om ’n bod in te dien.

“Hy het die proses vertraag met sy onwettige besetting van die grond nadat sy ooreenkoms in 2018 verstryk het.

“Ons het ’n saak teen hom ingedien.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article