Eric Kok, boorling van Roodepan by Kimberley, skrywer, dramaturg, regisseur en rolprentmaker van formaat, se oë is reeds op die Oscar-eerbewyse nadat sy rolprent Liesbet vyf eerbewyse, insluitend dié vir beste rolprent, op die onlangse Thokoza-rolprentfees in Gauteng gewen het.
Sy prestasie kom ondanks ’n gebrek aan belangstelling van die Noord-Kaapse regering om die rolprent te finansier of hom geldelik te help om die toekenningsaand by te woon.
“Dit maak ook nie saak nie, want ek het nou bewys hoe hoog die rolprent deur my eweknieë geag word en hoe gewild dit onder gehore is. Die regering het my nog nie gelukgewens met my eerbewyse nie.”
Die eerbewyse sluit in erkenning vir beste draaiboek, wat Eric aan sy pa, wyle Eric John Kok opdra; beste aktrise vir Magdalena Isaacs, wat die rol van Liesbet vertolk; beste kinematografie; en beste redigeerder. Die eerbewys vir beste rolprent dra Eric aan sy ma, Margaret Kok, en wyle ouma Frieda Kok op.
“Ek sou dit ook nie sonder die produksiespan, akteurs, gemeenskap, kerk en God kon doen nie,” sê hy.
Dit was die eerste keer dat die betrokke rolprentfees in Ekurhuleni in Gauteng aangebied is. Dié munisipaliteit, die Nasionale Loterykommissie en ander borge het dit ondersteun. Werksessies deur kenners is op die fees, wat vier dae lank geduur het, aangebied.
Die dag toe sy rolprent aan die meesal Zoeloe- en Xhosa-sprekende Gautengse gehoor vertoon is, was hy bekommerd.
“Ek het gestres, want die mense daar praat en verstaan nie Afrikaans so goed nie.”
Die fliek het onderskrifte gehad, sodat die gehoor die storie kon volg.
“Daarbenewens speel die fliek in ’n bruin gemeenskap in Kimberley af, wat in sekere opsigte ’n ander kultuur is as in Gauteng.”
Sy rolprent is ’n menslike drama, in skerp teenstelling met die ander rolprente, wat meer aksiebelaai was.
“Dit is ’n stadige rolprent, darem ook met humor en aksie. Ek kon agterkom die Johannesburgse gehoor is stiller as die gehoor in Mei vanjaar in Kimberley, waar die première was.
“Toe die credits rol, het hulle my staande toegejuig.
“Dit is ’n jonger gehoor, mense wat baie skerp met hul kritiek is. Die menslike drama in my fliek het hulle bekoor, al is dit ’n stadige fliek.
“Een vrou het agterna gesê ek is sekerlik ’n Christen, want my rolprent gaan oor diep vergifnis.
“Die rolprent gee die stedelinge ’n ander blik op die bruin gemeenskap. Dit is anders as die stereotipiese gangsters of dwelmverslawing. Dit gaan oor gewone mense met ’n menslike storie.
“My rolprent belig ’n ander vlak van ons samelewing.”
Liesbet handel oor ’n vrou wat haar eie drome ter wille van kinders moet prysgee.
Liesbet bly agter in iemand se werf in ’n klein huisie om geld te spaar. Haar groot droom is om eendag ’n huis te besit.
Haar dwelmverslaafde dogter daag op ’n dag op om haar seun, Liesbet se kleinseun, te kom haal. Dit is wanneer die probleme begin, en Liesbet moet tussen haar droom en haar liefde vir haar gesin kies.
Die draaiboek is in 2018 geskryf. Eric het in 2019 en 2020 die Noord-Kaapse departement van sport, kuns en kultuur, asook dié van finansies, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, om finansiering genader.
“Dit was doodloopstrate. Toe gee die Nasionale Rolprent-en-videostigting ’n beurs en ons kon begin skiet. Die geld was nie genoeg om die akteurs en span te vergoed nie, en ek het van my eie geld ook ingestoot.”
Liesbet was vroeër ’n episodiese verhaal op Facebook, waarvan Eric die einde aangepas het.
Die storie is deur sy ma en ouma se opofferings geïnspireer. Eric se pa het hom altyd aangemoedig om aan te hou skryf, sy repertoire op te bou en sy skryftalent te slyp.
“Op die vooraand van die toekenningseremonie was my hart reeds spierwit oor die goeie terugvoering oor die rolprent. Dit alleen was al genoeg. Dat die beoordelaars my fliek in heelwat afdelings benoem het, was die eerste verrassing.
“Die eerste toekenning wat gedoen is, was vir beste regisseur, wat ek tot my teleurstelling nie gekry het nie.
“Die tweede toekenning was vir die beste draaiboek. Die aankondiger het gewag dat die beoordelaars die wenner se naam na sy selfoon stuur. In dié oomblikke skreeu die gehoor ‘Liesbet, Liesbet’. Toe hy eindelaas aankondig dat Liesbet wen, was ek verward.
“Iemand het my gepor om na die verhoog te loop. Ek het my toespraak gelewer, dankie gesê, en gaan sit.
“Toe moet ek weer opstaan om die volgende eerbewys te ontvang. Met die volgende een kon ek nie eens gaan sit nie, want ek moes teruggaan verhoog toe.
“Teen dié tyd was ek emosioneel, my oë vol trane. Die oorkondes langs my stoel het opgestapel. Die dak het geskud soos die gehoor tekere gegaan het.
“Ek het baie geleer uit die rolprente waarmee Liesbet meegeding het. Ek kon sien in watter aspekte Liesbet kon verbeter. Van die ander rolprente was tegnies goed versorg en kan reguit TV toe gaan.
“Die span op my stel was meer onervare, ons is nog besig om oor die kuns van rolprentmaak te leer. Ons het uitdagings gehad. Tydens die verfilming was daar betogings, krag- en wateronderbrekings, en ’n reënstorm het ons stel verwoes.”
Eric het in Johannesburg drie rolprentmakers ontmoet wat met hom aan projekte wil werk. Dit behels onder meer ’n rolprent wat in Kimberley begin, maar grootliks in Johannesburg afspeel, en ’n dokumentêre produksie.
Liesbet gaan ook vir die Rustenburg-rolprentfees, die Tuinroete- Internasionale Rolprentfees, die Silwerskermfees en die Suid-Afrikaanse Film en Televisie-eerbewyse (Saftas) ingeskryf word.
Eric werk aan die teks van ’n verhoogproduksie oor geslagsgeweld en nog ’n rolprent. Intussen maak hy dokumentêre kortrolprente met verskillende maatskaplike temas vir iKasi Voices. Dit is ’n organisasie sonder winsbejag wat dokumentêre programme vir Cape Town TV maak, ’n TV-kanaal wat ook op DStv uitgesaai word.
Eric mik al hoe hoër en verder.
“Ek kan nie net meer in die Noord-Kaap bly nie. Daar is die res van die land, en elders; plekke soos Hollywood, Cannes, Austin, jy weet.”





