Dat meer skole
erkenning aan jong rolbalspelers gee wat in dié buitesport presteer, is iets
waaroor die bestuur van Noord-Kaap Rolbal verheug is.
Braam van der
Westhuizen, president van Noord-Kaap Rolbal, vertel dat o.15-, o.18- en
o.25-toernooie jaarliks aangebied word waar jong spelers van al die provinsies
meeding. Hy sê meer begin in die o.15-kategorie meeding en dat ’n oplewing vir
dié sportsoort by kinders jonger as 11 jaar bemerk word. Van der Westhuizen sê daar is heelwat uitstekende o.18-rolbalspelers in
die provinsie, en dat Noord-Kaap Rolbal toenemend in die jeug en hul voorkeur
vir rolbal as sport sal wil belê.
“Hulle is die
toekoms van rolbal, want al meer ouer spelers tree uit,” sê hy en bevestig dat
die persepsie dat rolbal ’n “oumenssport” is, besig is om te verdwyn.
’n Gr. 11-leerling aan die Hoërskool Prieska, Nadine Keulder, is onlangs tydens
die skool se prysuitdeling as die senior sportvrou van die jaar aangewys.
Nadine neem reeds vir die afgelope drie jaar aan die Suid-Afrikaanse
Rolbalkampioenskappe deel, vertel haar ma, Berdine. In 2022 was sy in
Noord-Kaap Rolbal se o.15-span, en in 2023 en 2024 in die o.18-span.
Die skool se
eerbewys as sportvrou van die jaar het as ’n groot verrassing gekom, sê
Berdine.
Nadine is ook ’n
aktiewe lid van die Conroy-vrouespan – Noord-Kaap Rolbal bestaan uit vier
subdistrikte wat Conroy, Kalahari, Kimberley subdistrik (KSD) en Intervaal
insluit. Wanneer die geleentheid hom voordoen, speel sy ook in
dorpsbyeenkomste.
Sy speel al vir
net meer as vier jaar rolbal, en dié gogga het gebyt nadat sy saam met
huisvriende begin deelneem het.
Nadia Botes, ’n
gr. 10-leerling aan die Hoërskool Duineveld in Upington, is ook onlangs by
haar skool met erekleure in rolbal vereer. Dié skool het al voorheen leerlinge in buitesportsoorte vereer.
Nadine en Nadia
is nie enigste leerlinge in die provinsie wat vir rolbal as sport by hul skole
vereer is nie, en Van der Westhuizen is dankbaar vir elke kind wat rolbal op
distriks- en provinsiale vlak speel en die nodige erkenning ontvang.





