Riool wat direk in die Oranjerivier vloei, en rou riool wat uit oorstroomde mangate in oop terreine langs woonbuurte uitgepomp word, het AfriForum genoop om weer ’n dringende skrywe aan die Kai !Garib-munisipaliteit te rig.

In die brief wat op Maandag 16 September aan Obakeng Isaacs, munisipale bestuurder, gestuur is, word geëis dat onmiddellik opgetree word wat betref mangate in Kakamas, Kenhardt en Keimoes waaruit riool stroom.

Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, sê in ’n verklaring dat Isaacs vyf werksdae het om op die skrywe oor die ernstige rioolkwessie in die drie dorpe te reageer.

Indien dié burgerregteorganisasie geen terugvoering ontvang nie, sal verdere stappe oorweeg word omdat die besoedeling verreikende gevolge vir menslike gesondheid en die omgewing inhou.

riool

Isaacs het nog nie reageer op ’n skrywe van AfriForum van 1 Augustus oor die gebrekkige dienslewering in dié dorpe nie.

Strauss sê die toestand van die rioolinfrastruktuur en die invloed daarvan op die gemeenskap se gesondheid en welstand, en op dié van die omliggende omgewing van die Oranjerivier, wek groot kommer.

Pompstasies wat riool na die rioolaanlegte lei, is buite werking en geen instandhouding het vermoedelik in jare plaasgevind nie. Om dié rede vloei riool direk in die Oranjerivier, terwyl rou riool uit oorstroomde mangate in die oop veld langs woongebiede uitgepomp word om verstoppings te hanteer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article