Priscilla Magerman, die nuwe parkbestuurder van die |Ai-|Ais/Richtersveld-oorgrenspark.

Foto: Verskaf

’n Vrou is die eerste keer as parkbestuurder by die |Ai-|Ais/Richtersveld-oorgrenspark aangestel.

Priscilla Magerman is met ingang van Saterdag 1 April dié ariede park se nuwe bestuurder.

Dié aankondiging is deur die waarnemende besturende direkteur van die parke-afdeling, Reuben Ngwenya, gedoen.

Magerman is ‘n gebore en getoë Namakwalander, met bande veral met Garies en Hondeklipbaai. Die afgeleë Richtersveld-omgewing met sy groot afstande en bergagtige woestyngedeeltes is nie vir haar onbekend nie.

Sy is gereed om die leisels op te neem en die park na hoër hoogtes te lei.

Magerman, met ’n BA-graad in gemeenskapsontwikkeling wat sy aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) behaal het, het in 2003 as ‘n tydelike sosiale-ekologie-beampte haar loopbaan by Sanparke begin. Haar hooffokus was op gemeenskapsontwikkeling.

Sy is in 2005 permanent by die Namakwa- Nasionale Park aangestel.

“Doen die beste wat jy kan waar jy is, maar streef na beter,” is haar lewensmotto.

“Die Richtersveld is ‘n baie spesiale plek met ’n ryke geskiedenis van erfenis, krag, dapperheid, oorlewing, deursettingsvermoë en trots as ruggraat.

“Die mense van die Richtersveld het so baie verduur, en steeds is hulle in staat om te seëvier en sukses te behaal. Ek sien daarna uit om die park en die mense, asook my nuwe kollegas, te leer ken,” sê Magerman.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article