Die Reserwebank het op Donderdag 21 Mei vir die vierde keer vanjaar die rentekoers verlaag.

Dié keer was die verlaging ’n halwe persentasiepunt. Al vyf lede van die monetêrebeleidskomitee (MBK) was ten gunste van ’n verlaging, maar twee lede wou net 25 basispunte hê.

Lesetja Kganyago

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.

Dit bring die totale verlaging in die rentekoers vir 2020 op 3 persentasiepunte te staan. Die repokoers is voortaan 3,75% en die prima rentekoers van banke 7,25%.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het in sy aanlyn nuuskonferensie opnuut beklemtoon dat die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkings die wêreldekonomie ruk.

Veral ontluikende lande loop erg deur omdat geld uit dié lande vloei, te midde van ’n afkeer in risiko.

Buitelanders het vanjaar al ’n netto bedrag van R149 miljard se Suid-Afrikaanse bates verkoop.

Hy sê dis baie moeilik om die ekonomiese impak van die pandemie op Suid-Afrika se ekonomie akkuraat te voorspel. Die Reserwebank verwag dat werkloosheid skerp gaan styg.

Die Reserwebank se verwagting vir ekonomiese groei is nou -7%, teenoor die -6,1% wat in April voorspel is en net -0,2% wat middel Maart voorspel is. Weens die skerper inkrimping in 2020 word sterker groei nou in die volgende twee jaar voorspel. Vir 2021 word groei van 3,8% nou voorspel (April: 2,2%) en vir 2020 word 2,9% voorspel (April: 2,7%).

Die sentrale bank het sy verwagting vir inflasie ook verlaag tot net 3,4% vir 2020, teenoor April se verwagting van 3,6%.

Dit beteken egter hoër inflasie word daarna voorspel. Vir 2021 is die verwagting tot 4,4% verhoog (April: 3,8%) en vir 2022 ook tot 4,4% (April: 4,2%).

Die Reserwebank is nie bekommerd oor skerp stygings in kospryse plaaslik nie, maar wel oor kragtariewe, wat nou met meer gaan styg as wat voorheen voorspel is.Hanlie Stadler

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article