Harold McGluwa, Noord-Kaapse DA-leier bekyk die rioolstelsel tydens ? onlangse oorsigbesoek aan Vanderkloofdam.

Foto: Verskaf

Politici en amptenare van die sukkelende Renosterberg-munisipaliteit het skaars asem geskep nadat een beslagleggings­bevel opgehef is, of ’n volgende beslagleggingsbevel is beteken.

Verlede week het die Belastingbetalersvereniging van Philipstown, wat in 2017 al ’n dispuut met die munisipaliteit oor swak dienslewering verklaar het, die administrasie met sy eie beslag­leggingsbevel verlam.

Dit volg op die voorlopige opheffing aan die einde van Mei van Eskom se beslagleggingsbevel op die munisipale bankrekening vir agterstallige skuld van meer as R93,2 miljoen in die Noord-Kaapse hooggeregshof.

Conrad Battenhaussen van RJM-prokureurs in Gqeberha, wat die belastingbetalersvereniging verteenwoordig, sê hulle het nege afsonderlike regsgedinge teen die munisipaliteit.

“Ons het die meeste daarvan met koste gewen, maar die munisipaliteit het nie die regskoste van honderde duisende rande betaal nie. Vandaar die jongste beslaglegging op hul bankrekening om dit te verhaal, hoewel ons besig is om te onderhandel. Die oogmerk van die regstappe is om ’n finale hofbevel te bekom waarin die munisipaliteit ’n regrukplan vir Philipstown bevestig.

“Die hof moet toesig hou dat hulle daarby hou, anders kan die munisipale bestuurder van minagting aangekla word. Die dorp het oor die jare heen uitmekaargeval weens die versuim om munisipale verordeninge toe te pas.”

Andrew Sampson, burgemeester, sê hy en die provinsiale regering beraadslaag oor wat hulle te doen staan.

“Ons wil ’n ooreenkoms met die belastingbetalersvereniging bereik. Ons bankrekening is leeg nadat Eskom R16 miljoen vir agterstallige skuld gevat het. Al wat tot ons beskikking is, is toelaes in begrotings vir onderhoudswerk. Ons kan dit nie gebruik nie weens die nuutste regstappe,” sê Sampson.

Intussen het amptenare en werkers sedert einde Februarie geen salarisse ontvang nie. Nombeko Gqiza, Imatu-vakbondwoordvoerder, sê hulle leef op die genade van vriende en familie om kos te koop en kinders se skoolgeld te betaal.

“Ons het almal ook lenings uitgeneem wat ons hopelik kan terugbetaal.”
Vakbondwoordvoerder

Sy sê sakelui en inwoners koop self brandstof vir munisipale vragmotors sodat vullis verwyder en riool opgesuig en na die rioolaanleg aangery kan word.

Harold McGluwa, DA-leier, het vroeër gesê hoewel die departement van samewerkende regering se hofaansoek teen Eskom suksesvol was, is die “diepliggende krisis” onopgelos.

“ ’n Nasionale Artikel 139.7-ingryping moet gedoen word om verdere skade te voorkom. Die munisipaliteit moet benewens Eskom-skuld van R100 miljoen ook uitstaande salarisse, pensioen- en mediese bydraes en beslagleggings­bevele vanaf November 2021 betaal. Hulle moet verwaarloosde en stukkende water- en rioolinfrastruktuur herstel.”

Die DA het twee weke gelede ná ’n inspeksiebesoek aan die Vanderkloofdam, waar rioolwater na bewering onwettig deur die munisipaliteit gestort is, ’n strafregtelike klagte teen Abe Motolong, waarnemende munisipale bestuurder, en die munisipaliteit by die polisie ingedien.

Die departement van samewerkende regering het daarna gesê hulle gaan vier nuwe rioolpompe en diesel verskaf om die probleem te probeer oplos.

Die beslagleggingsbevel op die bankrekening vir agterstallige skuld aan Eskom is aan die einde van Mei voorlopig opgehef, berig Mike van Rooyen. 

Uit die uitspraak van waarnemende regter O.K. Chwaro blyk dit dat veral ’n onttrekking in April van miljoene rande van Eskom uit Renosterberg se rekening die LUR vir samewerkende regering van die Noord-Kaap aangespoor het om ’n dringende aansoek in die Kimberleyse hooggeregshof in te dien.

Die geld behels hoofsaaklik toekennings uit die staatskas aan die munisipaliteit om bepaalde dienste te lewer.

Die LUR was nie tevrede met hoe Eskom met die munisipaliteit se bankrekening omgegaan het asof dit sy eie is nie.

Hoewel Eskom probeer het om gesprekke met die munisipaliteit, die LUR en ander belanghebbendes te voer om die probleem op te los, swaai die oorweldigende openbare belang deur die dienste wat die munisipaliteit lewer die skaal in die guns van die LUR, het Chwaro bevind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article