’n Kompetisie waarin ’n reis vir twee op Suid-Afrika se luukse Bloutrein gewen kan word, is in Kimberley aangekondig.
Dié museumpaspoort-kompetisie kombineer Erfenis- en Toerisme-maand in September met Vervoermaand in Oktober, en is op Vrydag 20 September by die Transnet-vervoermuseum in die Noord-Kaap se hoofstad bekendgestel.
Die kompetisie het ten doel om erfenistoerisme in die streek aansienlik te bevorder en die ryke historiese aanbiedinge in Kimberley ten toon te stel.
Om hulle vir die kompetisie in te skryf, moet deelnemers hul museumpaspoort by elk van vier spesifieke museums in Kimberley laat stempel nadat hulle dit besoek het. Dié museums is die Groot Gat-museum, McGregor-museum, William Humphreys-kunsgalery (Whag) en die Transnet-vervoermuseum.
Deur hierdie “reis” deur die vier museums te onderneem, word kennis oor Suid-Afrika se geskiedenis verdiep, terwyl voltooide museumpaspoorte – met die vier korrekte stempels – deel van ’n gelukkigstrekking sal wees.
Die wenner van die gelukkigstrekking wen ’n eenrigtingreis vir twee passasiers met die Bloutrein; dié prys het ’n waarde van R73 000.
Die Bloutrein is ‘n luukse trein wat ongeveer 1 600 km tussen Pretoria en Kaapstad aflê, en omgekeerd. Dit is een van die luuksste treinreise ter wêreld, met die diens wat as dié van ’n “manjifieke, bewegende vyfsterhotel” beskryf word.
Godfrey Cader, hoof van die Bloutrein by Transnet Freight Rail, het Vrydag met die bekendstelling van die kompetisie gesê dit is ’n tree vorentoe om meer vir Kimberley te doen. Hy sê om museums te besoek is om in die truspieël te kyk vir ’n duideliker beeld van die pad vorentoe.
Chepape Makgato, hoofkurator van die Whag, sê die kompetisie sal die voetspoor na die kollektiewe aanbieding vergroot wat in Kimberley beskikbaar gestel word en dat dit tot groei sal lei.
“Ons doen dit nie vir onsself nie, maar vir toekomstige geslagte. Hierdie vier museums vertel die verhaal van Kimberley, ’n volledige verhaal met verskillende perspektiewe,” sê Thabo Seshoka, senior bestuurder van erfenisbates en -bewaring vir groepsakeontwikkeling by die Transnet-groep.
“Ons doelwit is om Kimberley se ryke kulturele geskiedenis te bevorder en te verseker dat hierdie instellings sentraal in ons gemeenskap bly,” sê Sunet Swanepoel, uitvoerende hoof van die McGregor-museum, in ’n persverklaring, en stel dit dat die museumpaspoort ’n briljante geleentheid is om op ’n interaktiewe en lonende manier by die bewaring van erfenis betrokke te raak.
Kry stempels op museumpaspoort
- Deelnemers aan die kompetisie moet Suid-Afrikaanse burgers wees, en minstens 14 jaar oud. Enigeen jonger as 18 jaar wat die kompetisie wen, moet deur ‘n volwassene vergesel word.
- Deelnemers moet die toegangsgeld by die deelnemende museums betaal en minstens 20 minute in elk deurbring, waarna die paspoort deur die museumpersoneel gestempel sal word.
- Ná die besoek aan die vierde museum, in geen spesifieke volgorde nie, sal die gestempelde paspoort in die paspoorthouer by die ingang van die museum geplaas word.
- Elke deelnemer kan slegs een keer inskryf.
- Binne twee weke ná die kompetisietydperk sal ’n wenner deur middel van ’n ewekansige trekking aangewys word. Die trekking sal deur ’n ouditeur uitgevoer en die uitslag hiervan nagegaan word.
- Die wenner sal gekontak word volgens die kontakbesonderhede wat op die museumspaspoort verskaf word.
- Indien die wenner nie binne drie dae bereik kan word nie, sal ‘n tweede trekking gedoen word.
- Die wenner is aanspreeklik om eie koste te dek ten opsigte van vervoer en verblyf voor en ná die reis na en van die stasies in Kaapstad en Pretoria.
- Die prys moet tussen 1 Januarie en 31 Julie 2025, of tussen 16 November en 31 Desember 2025, gebruik word.
- Die kompetisie is reeds oop, en inskrywing kan tot 18 Oktober gedoen word.
- Belangstellendes kan een van die vier deelnemende museums besoek om ’n museumspaspoort te kry om aan die kompetisie te kan deelneem.
Die Groot Gat-museum
Dié besoekpunt is vir die Groot Gat bekend; die verhaal van diamantmynbou, wat tot Kimberley se ontstaan gelei het, word hier uitgebeeld.
Die geskiedenis van die diamantstormloop word met talle uitstallings, en ’n opgestelde myndorpie met geboue kenmerkend van daardie era, vertel.
Ongeveer 150 jaar gelede het duisende prospekteerders, met niks meer as pikke, grawe en hoop, toegesak op die terrein waar die Groot Gat is, toe dit bekend word dat diamante hier ontdek is.
Dit het tot een van die grootste mynuitgrawings met die hand gedoen, ter wêreld, gelei.
Hierdie historiese diamantmyn beslaan ’n oppervlakte van 17 ha, is 463 m breed, het ’n diepte van 240 m, en was van 1871 tot 1914 aktief.
Die museum se bedryfsure is Maandae tot Sondae van 08:00 tot 17:00.
Op Maandae tot Vrydae begin die eerste toer om 09:00, en daarna elke uur. Die laaste toer vind om 16:00 plaas.
Op Saterdae en Sondae begin die eerste toer om 09:00, en daarna elke tweede uur. Die laaste toer is om 15:00.
Die museum is op Kersdag gesluit.
Toegang kos R140 per volwassene, en kinders van vier tot 12 jaar oud betaal R100. ’n Gesinspakket, vir twee volwassenes en drie kinders van vier tot 12 jaar oud, kos R480.
Om slegs die Groot Gat te besigtig kos R80.
McGregor-museum
Dié museum vertoon Kimberley se natuurlike en kulturele geskiedenis, van die vroeë ontstaan van die mens, tot die onlangse bevrydingstryd.
Dit bevat uitstallings wat in tema wissel van argeologie en paleontologie tot etnografie en streekgeskiedenis, en is ’n hoeksteen vir diegene wat in die gebied se diverse erfenis belangstel..
Die museum is op 24 September 1907 gestig toe die oorspronklike museumgebou in Chapelstraat deur Margaret McGregor aan die mense van Kimberley geskenk is.
Teen die laat 1960’s het die toenemende grootte van die museumversamelings daartoe gelei dat die museumpersoneel en versamelings na die historiese sanatoriumgebou in Atlasstraat verskuif is.
Die McGregor-museum is die hoofmuseum in die Noord-Kaap, met nege satelliete, insluitend die Duggan-Cronin-galery, Dunluce-huis, Rudd-huis, die Magersfonteinslagveld, Pioniers van Lugvaart, die Wildebeestkuil-rotskunssentrum en die Wonderwerk-grot.
Dit is geleë by Atlasstraat 7-11 in Herlear, en is oop op Maandae tot Saterdae van 08:00 tot 16:00, en op openbare vakansiedae van 09:00 tot 16:00.
Toegangsgeld is R30 vir volwassenes en R20 vir kinders. ’n Spesiale prys is van toepassing vir skoolgroepe, waarvoor bespreking noodsaaklik is.
Om navrae te rig, skakel 053-839-2700, skryf aan enquiries@museumsnc.co.za of besoek museumsnc.co.za/new_site/.
William Humphreys-kunsgalery (Whag)
Die Whag, wat in 1972 gestig is, is bekend vir sy uitgebreide versameling Suid-Afrikaanse en internasionale kuns, en bied ook beduidende kulturele programme en opvoedkundige uitreik-projekte aan.
Die galery is ’n kulturele middelpunt in Kimberley en bied uitstallings, werksessies en gemeenskapsgeleenthede aan. The Whag is een van drie nasionale kunsmuseums in die land, en die enigste in die Noord-Kaap.
Dit is langs die Oppenheimer-tuine by 1 Cullinansingel in Kimberley geleë.
Die Whag kan Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 16:30 besoek word, Saterdae van 09:00 tot 14:00, en op openbare vakansiedae van 09:00 tot 12:00. Toergidse is beskikbaar indien vooraf gereël.
Toegangsgeld is R5 per volwassene en R2 per kind of leerling. Studente met ’n studentekaart het gratis toegang. Begeleide toere teen R100 elk kan gereël word.
Skakel 053-831-1724/5, skryf aan enquiries@whag.co.za of besoek whag.co.za.
Transnet-vervoermuseum
Hierdie museum is ’n skatkis van Suid-Afrika se spoorweggeskiedenis en memorabilia wat die ontwikkeling van die land se vervoererfenis toon.
Dit is in die 138-jarige Kimberley-treinstasie gehuisves en bied ’n kykie in die geskiedenis van Suid-Afrika se spoorweggeskiedenis, en antieke meubels, silwerware en unieke spoorwegporselein word ook uitgestal.
Die museum is Maandae tot Vrydae van 08:30 tot 16:30 oop, en is op Saterdae, Sondae en openbare vakansiedae gesluit.
Toegangsgeld is R20 per volwassene en R15 per kind.
Dit is in Florenceweg, Kimberley, geleë.
Skakel 053-838-2376 of skryf aan heritage2@transnet.net of carien.viljoen@transnet.net.





