Dr. Ian van der Merwe op die “draagbaar” met sy gebreekte linkerenkel.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Dr. Ian van der Merwe, ’n geneesheer van Postmasburg, het onlangs ’n onaangename verrassing gehad toe ’n dorperskaapram hom uit aksie gestel het.

Van der Merwe (54) was laatmiddag van die ysige Dinsdag 1 Augustus pas terug uit die veld ná ’n koedoejag en wou seker maak dat die ooie met lammers in die skuur is om hulle teen die erge koue te beskerm.

Toe hy buk om ’n klein lammetjie op te tel, sien hy net skrams hoe die ram op hom afpyl, en voel hy hoe hy teen die enkel en voet getref word.

Bollemakiesie
Hy het glo letterlik bollemakiesie geslaan. In die proses het hy sy hangende linkervoet gesien, en dadelik besef dat die enkel morsaf is.

Toe Van der Merwe die grond tref, het die rammetjie-uitnek ram weer op hom afgepyl, en hom teen die heup getref.

Vanaf die grond het Van der Merwe vir die werkers om hulp geroep, terwyl sy mak hamel-boklam ook tot sy redding gekom het deur die veglustige ram weg te stamp.

Op ’n geïmproviseerde draagbaar van ’n hekkie het die werkers Van der Merwe uit die kraal na warmer en veiliger toestande voor die skuur gedra, en vandaar sy vrou, Annette, vir ambulansreëlings na Postmasburg gebel.

Dr. Ian van der Merwe op die “draagbaar” met sy gebreekte linkerenkel.

Om hom teen die koue te probeer beskerm, is hy met ’n perdekombers – al wat daar beskikbaar was – toegemaak.

Drie uur later het hy uiteindelik in die ambulans in Postmasburg aangekom.

Op die berugte grondpad tussen Griekwastad en Postmasburg het die ambulans boonop ’n pap wiel gekry.

Van der Merwe was toe reeds in erge pyn, want weens die koue weer kon ’n behoorlike aar nie gekry word om ’n drup vir hom op te sit nie.

By Tommy’s-vliegveld by Beeshoek het die helikopterambulans reeds gewag en het die bekwame helikopterpersoneel beheer geneem, hom stabiliseer en sy pyn verdoof vir die rit na Kimberley.

In die Lenmed-hospitaal het ’n ortopeed hom verder onder hande geneem.

Weens die swelling kon hy eers die Vrydag tydens ’n vier-uur-lange operasie opereer word, en toe eers kon die ses weke lange pad na herstel begin.

Hy sê egter ná al die gesondheidshekkies wat hy die afgelope tyd moes oorkom (hy was ook vroëer lank in ’n hospitaal in Bloemfontein met Covid-19) glo hy sy taak as geneesheer is nog nie afgehandel nie.

Ironies genoeg het Van der Merwe se buurman, Abrie Maritz, ook dieselfde week sy enkel gebreek.

Hy het op nat gras voor ’n helikopterloods gegly toe hy ’n mak eland wou verjaag.

Mimi Swart

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article