Die ANC-raadslid vir wyk 22 in die Sol Plaatje-munisipaliteit het verlede week nukkerig erken hy het nie volledige antwoorde op ontstoke inwoners se vrae oor ’n omstrede raadsbesluit om erwe teen korting aan ’n sekere groep mense te verkoop nie.
Jahn Pietersen, ANC-raadslid, sê hy begryp nie betrokke wetgewing goed genoeg nie en het verskoning gevra dat geen openbaredeelnameproses gevolg is nie. Inwoners en opposisiepartye oorweeg regstappe omdat die munisipaliteit met die raad se toestemming “wetlike bepalings oor grondbeleid omseil”.
Dit kom nadat die ANC-meerderheid in ’n raadsvergadering gestem het om ongedienste erwe in Southridge teen korting aan die sogenaamde Phomolong 109-groep te verkoop. Dit is ’n groep waarvan die lede hulself as voorheen benadeelde inwoners beskryf. Die DA en VF Plus het buite stemming gebly, en die EFF en Good het die ANC gesteun.
Kobus van den Berg, VF Plus-raadslid, sê die buurt se verlaagde eiendomswaarde het ’n werklikheid geword. Sy party maak beswaar teen die “onreëlmatigheid en gebrek aan ’n openbaredeelnameproses”.
“Ngoako Modiba, stadsbeplanner, het aan die raad verklaar dat dié transaksies deur die munisipale verordening, Sol Plaatje se beleid op grond en ander onroerende kapitale bates toelaatbaar is. Klousule 13(1)(F)(i)(ii) van dié beleid bepaal egter dat die toegewing slegs aan ander staatsinstellings gemaak kan word.
“Dit sluit private aankopers uit, maar die Phomolong 109-groep word eksklusief meer as 108 eiendomme teen slegs 60% van die markwaarde aangebied. Die beskikbare erwe het nie dienste nie. Die groeplede verdien meer as R22 000 per maand, die afsnypunt vir staatsondersteuning vir grondaankope. Hulle kry geen staatshulp, mits die reëls op plaaslike regeringsvlak gebuig is. Huispryse gaan afneem omdat waardasies op onlangse eiendomstransaksies bepaal word. Bankwaardasies word beïnvloed en lenings kan hoër as eiendomswaarde wees.”
Elize Niemann, DA-raadslid, sê die munisipaliteit probeer om ’n gapingshuisontwikkeling onwettig deur te druk en manipuleer beleid.
“Die stad ignoreer ook die behuisingsbehoefteregister deur die erwe aan inwoners van Phomolong toe te ken, wat nie op die waglys vir die Finansiële Gekoppelde Individuele Subsidieprogram (Flisp) is nie.”
Op die openbare vergadering wat deur die Southridge-gemeenskapforum gereël is, en waarna Pietersen genooi is om vrae te beantwoord, het inwoners gesê hulle vrees die ontstaan van plakkerskampe, wat die waarde van hul erwe kan laat daal.
“Ek moes by my party inval, want die ANC-koukus het reeds besluit dit moet deurgevoer word,” het Pietersen verduidelik.
“Julle kan steeds ’n openbare konsultasieproses volg,” het hy die inwoners gepaai.
Een inwoner het gesê sekere artikels in die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) bepaal dat die raad nie bates teen ’n verlies mag verkoop nie. Pietersen het erken dat hy nie met die MFMA vertroud is nie.
Nog een man het gewonder of die nuwe kopers water-, krag- en sanitasie-verbindings gaan aanlê.
“Kort voor lank sit ons met erwe vol shanties en een of geen toilette.”
Pietersen het later geweier om verder vrae te beantwoord.
Riaan Bode, ’n regsgeleerde, het moontlike regstappe verduidelik. Die grond is glo reeds soneer en erfnommers gegee, wat ’n openbare konsultasieproses van geen belang maak. Rekords is aangevra om te bepaal of wetgewing gevolg is. Vrae het ook ontstaan of enige omgewingsimpak- en ander studies gedoen is.
Inwoners gaan ’n komitee saamstel, en klagte is by die openbare beskermer ingedien.





