Jahn Pietersen, ANC-wyksraadslid, sit op die verhoog nadat hy geweier het om inwoners se vrae verder te beantwoord.

Foto: Charné Kemp

Die ANC-raadslid vir wyk 22 in die Sol Plaatje-munisipaliteit het verlede week nukkerig erken hy het nie volledige antwoorde op ontstoke inwoners se vrae oor ’n omstrede raadsbesluit om erwe teen ’n afslagtarief aan ’n sekere groep mense te verkoop nie.

Jahn Pietersen, ANC-raadslid, sê hy begryp nie betrokke wetgewing goed genoeg en het verskoning gevra dat geen openbare deelname proses gevolg is nie.

Jahn Pietersen, ANC-wyksraadslid, sit op die verhoog nadat hy geweier het om inwoners se vrae verder te beantwoord.

Inwoners en opposisiepartye oorweeg regstappe omdat die munisipaliteit met die raad se toestemming “wetlike bepalings oor grondbeleid omseil”.

Dit volg nadat die ANC-meerderheid in ’n raadsvergadering gestem het om ongedienste erwe in Southridge teen afslagpryse aan die sogenaamde Phomolong 109-groep te verkoop. Dit is ’n groep wat hulself as voorheen benadeelde inwoners beskryf.

Die DA en VF Plus het buite stemming gebly terwyl die Economic Freedom Fighters (EFF) en Good die ANC gesteun het.

Kobus van den Berg, VF Plus-raadslid, sê die buurt se verlaagde eiendomswaarde het ’n werklikheid geword. Sy party maak beswaar teen die “onreëlmatigheid en gebrek aan ’n openbare deelname” proses.

“Ngoako Modiba, stadsbeplanner, het aan die raad verklaar dat dié transaksies deur die munisipale verordening, Sol Plaatje se beleid op grond en ander onroerende kapitale bates (2016), toelaatbaar is. Klousule 13(1)(F)(i)(ii) van dié beleid bepaal egter dat die toegewing slegs aan ander staatsinstellings gemaak kan word. Dit sluit private aankopers uit, maar die Phomolong 109-groep word nou eksklusief meer as 108 eiendomme teen slegs 60% van die markwaarde aangebied. Die beskikbare erwe het nie die nodige dienste nie.

“Die groeplede verdien meer as R22 000 per maand, wat die afsnypunt vir staatsondersteuning vir grondaankope is. Hulle kry geen staatshulp mits die reëls op plaaslike regeringsvlak gebuig is. Huispryse gaan geweldig afneem omdat eiendomswaardasies op onlangse eiendomstransaksies bepaal word. Bankwaardasies word beïnvloed en eienaars se lenings kan hoër as hul eiendomswaarde wees.”
Kobus van den Berg

Hy sê Southridge gaan reeds gebuk onder swak infrastruktuur, rioollekkasies en swak paaie wat nie onderhou word nie.

Elize Niemann, DA-raadslid, het ’n petisie opgestel. “Die munisipaliteit probeer om ‘n gapingshuisontwikkeling onwettig deur te druk. Hy manipuleer sy beleid op grond- en ander onroerende bates om die erwe te verkoop.

“Die stad ignoreer ook die behuisingsbehoefteregister deur die erwe aan inwoners van Phomolong toe te ken, wat nie eens op die waglys vir die Finansiële Gekoppelde Individuele Subsidieprogram (Flisp) is nie.”

Op die openbare vergadering in ’n kerksaal wat deur die Southridge Gemeenskapforum gereël en waarna Pietersen genooi is om vrae te beantwoord, het inwoners gesê hulle vrees die ontstaan van plakkerskampe wat die waarde van hul erwe kan laat daal. Misdaad is reeds ’n probleem in die buurt.

“Ek moes by my party inval, want die ANC-koukus het reeds besluit dit moet deurgevoer word,” het Pietersen verduidelik. “Julle kan steeds ’n openbare konsultasie proses volg,” het hy die inwoners probeer paai.

Een inwoner het gesê sekere artikels in die Wet Op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) bepaal dat die raad nie bates teen ’n verlies mag verkoop nie. Pietersen het erken dat hy nie vertroud met die MFMA is nie.

Nog ’n eienaar het gevra wie hom gaan vergoed indien sy eiendom se waarde tuimel. Een man het gewonder of die nuwe kopers water-, krag- en sanitasie-verbindings na hul eiendomme gaan aanlê.

“Dit gaan ’n gesondheids- en veiligheidsrisiko veroorsaak. Kort voor lank sit ons met erwe vol shanties en een of geen toilette.”
‘n Eienaar

’n Vrou het Pietersen gewaarsku dat die inwoners nie gaan besgee oor ’n “eensydige onwettige” besluit nie.

Teenwoordiges het kort-kort hande geklap waarna Pietersen geweier het om verder vrae te beantwoord en het hy gevoude hande gaan sit.

“Dan beteken jy niks,” het ’n bejaarde inwoner gesê. Pietersen is deur inwoners beskuldig dat hy hulle minag omdat hy onvoorbereid opdaag en op sy selfoon besig is terwyl hulle hul kommer uitspreek.

Riaan Bode, ’n regsgeleerde, het moontlike regstappe verduidelik soos ’n petisie en ’n interdik teen die inwerkingstelling van die beleid hangende ’n hersieningsaansoek. Indien regstappe gevolg word, sal geld daarvoor ingesamel moet word.

Na bewering is die grond reeds gesoneer en erfnommers gegee wat ’n openbare konsultasieproses van geen belang maak.

Die rekord van die betrokke raadsvergadering en ander dokumente is aangevra om te bepaal of betrokke wetgewing gevolg is en of raadslede al die inligting deeglik oorweeg het om ’n munisipale kapitaalbate teen afslag ten koste van die munisipaliteit se geldkoffers te verkoop. Die besluit verlaag ook eiendomswaardes in aangrensende woonbuurte.

Vrae het ook ontstaan of enige omgewingsimpak- en ander studies vooraf gedoen is. Die inwoners gaan ’n komitee saamstel wat die optrede teen die munisipaliteit sal bestuur.

Klagtes is ook reeds by die openbare beskermer (OB) ingedien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article