Danny Jonas is vir eers en hangende twee hersieningsaansoeke wat spoedig deur die hooggeregshof afgehandel moet word, nog die speaker van die Thembelihle-munisipaliteit in Hopetown.

Dié raad verkeer weens die onmin onder raadslede en politieke partye in ’n byna onregeerbare en ’n chaotiese toestand.

Só het regter Violet Phatshoane, adjunkregterpresident, onlangs in ’n uitspraak bevind. Die status quo word gehandhaaf hangende hersieningsaansoeke in verwante hofaansoeke waarin Jonas, sy eie Siyathemba-gemeenskapsbeweging (SGB), die ANC, munisipaliteit, departement van samewerkende regering, Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en ander raadslede gewikkel is.

“Die antagoniste voer elkeen aan dat hulle in die beste belang van die raad optree. Die raad, wat die setel van goeie regering moet wees, is in spanning en wanfunksionaliteit gedompel,” bevind Phatshoane.

Haar uitspraak is voorverlede week gelewer in die aansoek van die ANC en Tommy Yola om Jonas uit sy amp te verwyder. Hulle voer aan Jonas wat op 22 Junie as raadslid en speaker verwyder is, moet ophou om as speaker op te tree. ’n Raadsvergadering moet dringend belê word om ’n nuwe speaker aan te wys.

In Mei het Andrew Phillips, SGB-voorsitter, die munisipale bestuurder en die OVK ingelig dat Jonas geskors is. Jonas het dit met ’n hofaansoek betwis en aangevoer Phillips, wat geskors is, het geen mag nie. In Junie het ene mnr. Shuping, toe die waarnemende munisipale bestuurder, Jonas se posisie vakant verklaar.

Jonas het in ’n skrywe aan die OVK aangedring dat Steven Marufu die waarnemende munisipale bestuurder was en nie Shuping nie. Die SGB het versoek dat Marnus Visser Jonas se setel moet oorneem.

Die ANC voer aan Jonas hou aan om raadsvergaderings op kort kennisgewing te belê en Jonas is glo oordonderend, onderdrukkend en eensydig.

Op sy beurt voer Jonas aan dat die ANC deur die verkiesingsuitslae uit die kussings gelig is en dat hy kragtens die hofbevel sy posisie in die party en raad hangende ’n hersieningsaansoek behou. Hy voer aan hy is onpartydig en sê die jongste aansoek teen hom is ’n poging om die aanbevelings van die forensiese ondersoek na die munisipaliteit se bedrywighede te onderdruk wat die nasionale tesourie op sy versoek gedoen het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article