Op die vooraand van Paasnaweek is twee mense dood en 15 beseer in ’n botsing tussen ’n taxi en ’n motor op die berugte R31-pad buite Daniëlskuil.
Ineke van Huyssteen van ER24 sê paramedici het Donderdag (06/04) kort voor 20:00 op die ongelukstoneel opgedaag.
Hulle het die taxi in die veld langs die pad gevind, en die motor wat op sy dak op die pad gelê het.
Met nadere ondersoek het hulle twee slagoffers dood verklaar, en bevind dat 15 ander beserings opgedoen het wat van lig tot ernstig gewissel het.
Van Huyssteen sê die beseerdes is op die toneel behandel voordat hulle na die hospitaal gebring is.
Kommentaar oor die ongeluk het op Facebook ingestroom.
Jannie Viljoen beveel aan dat mense nie die pad ná sononder ry nie.
Sonia Swart sê dit is ’n gevaarlike pad om in die nag aan te durf.
“Vermy ten alle koste,” sê sy.
Judith Davids sê as mense net meer geduld het, kan baie mense se lewe gered word.
Adrian Petrus skryf die pad tussen Kimberley en Kathu was Donderdagaand ’n nagmerrie, en vertel van ’n rooi VW Polo met ’n vrouebestuurder wat baie onverskillig bestuur het, veral met die verbysteek van voertuie.
Volgens hom het ’n hele aantal motoriste noue ontkomings gehad “wat hulleself veroorsaak met gevaarlike en ongeduldige overtaking”.
Hy sê kontrakteurbakkies vleg “deur die druk verkeer asof hulle haastig is vir die dood”.
“As julle hier lees, manne, julle speel met onskuldige mense se lewe,” skryf hy.
Volgens hom het hy geen verkeersbeampte op die pad gesien nie.
Koos Odendaal skryf dit is nie die pad wat die skuld moet kry nie, maar “die idiote agter die stuurwiele”.




