Terwyl grondeienaars en bure rondom Roodepan in Kimberley onthuts is omdat hulle nooit van die “skielike” R1 miljard-behuisingsontwikkeling ingelig of by omgewingsimpakstudies as geaffekteerde partye betrek is nie, glo opposisiepartye dit is ’n verkiesingsfoefie ter wille van die ANC.
Die behuisingsprojek word Donderdag 18 Januarie deur pres. Cyril Ramaphosa in Roodepan op ’n stuk veld wat skoon geskraap en waarop ’n tent opgeslaan is, bekendgestel.
Terwyl besonderhede oor wie baat vind vaag is, gaan Ramaphosa glo inligting gee oor hoeveel Breaking New Ground (BMG)-huise in elke Noord-Kaapse munisipaliteit gebou gaan word.
Omliggende grondeienaars wat uit vrees vir viktimisasie nie hul name wil publiseer nie, sê hulle is ook nie ingelig oor die ontwrigting wat die byeenkoms vir hulle kan inhou nie, soos paaie wat gesluit is en luide geraas wat moontlik is nie. Hulle het vrae of wetlike vereistes en veiligheidsmaatreëls vir die hoë sekuriteitsbyeenkoms nagekom is.
“ ’n Groot tent en mobiele toilette word opgeslaan en kos word aangery. Dit kos seker miljoene, hoekom praat die president nie by die stadion nie? Nog geld word weereens vermors, terwyl dienslewering agteruitgaan,” sê een grondeienaar.
Een van die grondeienaars sê die Sol Plaatje-munisipaliteit lewer min dienste.
“Roodepan word al vuiler. Almal gooi bakkievragte vullis in die veld, tot ou meubels. Die plastieksakke waai die veld vol en ons diere kan dit vreet. Die probleem sal net vererger met meer inwoners en min dienslewering. Kimberley het derduisende slaggate en gebrekkige watertoevoer, nou wil hulle nog huise aan die netwerk koppel.”
Nog ’n grondeienaar kla dat niemand hulle ooit ingelig het oor ’n moontlike ontwikkeling in Roodepan nie, wat nog te sê hoeveel huise, woonstelle of winkelsentrums, of hoe groot dit gaan wees nie.
“Intussen vrees ons verdere besoedeling van Kamfersdam, en lekplekke wat die dam al voller laat loop, want die munisipaliteit se infrastruktuur is wankelrig. Sodra die president vort is, word alles weer net so vuil en verswak toestande.”
‘Dalk is daar ’n engel’
Luidens ’n verklaring deur dr. Zamani Saul, premier, hoop hy om die provinsie se behuisingsagterstand uit te wis.
Hy is verbind om informele nedersettings stuksgewys te verminder. Die provinsie het reeds 18 000 erwe van dienste in die vyf distrikte voorsien, en bouwerk van 4 143 huise begin eersdaags. Hy meen dit sal ’n positiewe impak hê op sy strewe om informele nedersettings te verminder.
Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-parlementslid en Noord-Kaapse leier, sê die president het reeds uitsprake gemaak dat die behuisingsagterstand nie met gewone staatsbesteding ingehaal kan word nie.
“Hy verklaar selfvoldaan dis moontlik danksy ’n nuwe finansieringsmodel. Wat die model is, bly ’n geheim. Die totale provinsiale begroting van die provinsie is sowat R20 miljard. Ons praat dus van ’n behuisingsprojek wat binne ’n jaar voltooi moet wees en wat 5% van die provinsie se hele jaarlikse begroting beloop.
“ ’n Mens wil amper opgewonde raak oor ’n finansieringsmodel, waaraan niemand nog gedink het nie, wat die regering in staat sal stel om ’n reusebedrag te leen sonder terugbetalings wat ’n voetboei is.
“Dit klink onwaarskynlik. Dié stelling is dieselfde as die sogenaamde nuwe daeraad, van gratis hoër onderwys, maar geplaag deur korrupsie en onvolhoubaarheid. Die VF Plus wil nie te sinies wees om ooit verras te word nie. Die beste is om te wag tot die plan bekend geword het en dit dán te evalueer.”
Dr. Isak Fritz, DA Noord-Kaapse premierskandidaat, sê “dié groot geldinspuiting op die vooraand van die verkiesing is ’n verkiesingsfoefie eerder as om mense se waardigheid te herstel. Terwyl die DA simpatie het met die talle inwoners wat al dekades lank op behuisingswaglyste bly, is ons skepties.
“Dis kommerwekkend dat R600 miljoen van die R1 miljard geleen word, met rente van R94 miljoen. Ons twyfel of die Noord-Kaapse regering nog skuld kan bestuur. Die boukoste van die psigiatriese hospitaal in Kimberley het van R290 miljoen tot R2,1 miljard opgeskiet, miljoene rande het met die Covid-19-pandemie verlore gegaan en amptenare is van bedrog aangekla.
“Die departement van paaie en openbare werke kon slegs vier uit 14 kapitaalprojekte binne die spertyd voltooi.”
“Die provinsie het beduidende jaarlikse begrotingsverminderings én -beperkings, benewens groot infrastruktuur-agterstande vir kritieke dienste soos water en sanitasie, wat eerder aandag moet geniet.”
Fritz sê die projek is ’n metode om die premier se beloftes van sy eerste provinsiale rede in 2019 na te kom.
“Hy kan slegs 4 000 huise met die geld bou, in teenstelling met sy vorige belofte van 6 500 huise op gedienste persele. Dit is ook tekenend dat die projek in Roodepan geloods word, waar die PA onlangs ’n tussenverkiesing gewen het nadat die ANC-raadslid na die PA oorgeloop het.”
‘Behuisingsprojek ’n foefie’
Shadrack Tlhaole, EFF-provinsiale voorsitter, sê die behuisingsprojek is ’n verkiesingsfoefie “waarin die regerende party voorgee hulle is besorg oor die toestande waarin mense leef. Hulle is nie.
“Terwyl die projek poog om volhoubare stedelike behuising te voorsien, is dit nie baie tasbaar nie. Ons bly versigtig oor die moontlikheid dat dit ’n geldinsamelingspoging vir die verkiesing is. Ons kommer spruit uit die provinsie se swak rekord van korrupsie, en wanadministrasie soos te sien in verskeie verslae en ondersoeke. Sonder streng oorsig kan die projek se oogmerke ondermyn word.
“Die behuisingskrisis in Kimberley is ’n simptoom van die breë sosio-ekonomiese uitdagings in ons gemeenskappe. Net ’n EFF-regering kan tasbare verbetering vir inwoners bring, nie net infrastruktuur nie. Ons eis volle deursigtigheid en ’n duidelike tydlyn wat verantwoordbaarheid meebring.”
Die party bevraagteken die tydsberekening van die aankondiging.
“Ons is versigtig vir politieke opportunisme waar groot projekte misbruik word vir werwing eerder as werklike behoeftes in die gemeenskap. Die mense verdien meer as leë beloftes en die seremoniële sooispit.”
Die party beywer hom vir ’n provinsiale konstruksiemaatskappy waarin plaaslike hulpbronne en kundigheid met maksimale integriteit en doeltreffend ingespan word.





