Die pryse wat op die derde SA’s Texas Beef Bull Sale in Vryburg behaal is, weerspieël die gehalte van diere wat aangebied is.
Op die veiling, wat op 5 Mei aangebied is, het die duurste bul – ’n charolaisbul van Dewald van der Merwe van Biesiesvlei Boerdery by Lichtenburg – R160 000 gehaal. Jacques Swart van Malemba Boerdery by Vryburg is die trotse nuwe eienaar.
Nog een van Van der Merwe se charolaisbulle is vir R100 000 aan Wikus Mostert van Schweizer-Reneke verkoop.
Twee brahmanbulle is vir R100 000 elk verkoop, onderskeidelik aan Kobus Niemann van KE Boerdery by Vryburg en Harry Burger van Schweizer-Reneke.
Die duurste simmentalerbul, van Danie Erasmus van Vera Simmentalers by Delareyville, is vir R100 000 aan Johan Rosseau van Rosseau Boerdery, ook van Delareyville, verkoop.
Die gemiddelde prys wat behaal is, is R78 444 vir charolaisbulle, R66 250 vir simmentalerbulle en R65 333 vir brahmanbulle.
Noordkaap Lewendehawe wens die SA’s Texas Beef Bull-groep geluk met diere van ’n hoë gehalte.
Theuns Visser was die afslaer.





