Dr. Zamani Saul, Noord-Kaapse premier, het vandeesweek sy provinsiale rede, wat vir ’n slag weer by die provinsiale wetgewer in Kimberley aangebied is, kort gehou.
Die provinsiale ANC het ná die onlangse verkiesing met 49,3% van die provinsiale stemme sy meerderheid van die 30 setels verloor en werk saam met die VF Plus om as ’n meerderheid te regeer.
Saul het daarom op Dinsdag 25 Junie spesiaal vir Theo Joubert, die een VF Plus-wetgewerlid, vir sy party se samewerking bedank. Hy het ook die sewe DA-lede verwelkom, en die drie PA-lede as die “nuwelinge”. Net een van die vier EFF-wetgewerlede was teenwoordig.
Saul het soos pres. Cyril Ramaphosa in die staatsrede gesê het, benadruk dat partye hul verskille opsy moet sit en saamwerk om die burgers te dien.
“Ons beweeg op onbekende terrein. Gelukkig is ’n goeie kaptein, die president, aan die stuur.
Hy het ook weer oor die vordering gepraat wat die afgelope 30 jaar van demokratiese regering gemaak is, en die ANC se beloftes in sy handves herhaal, asook sy prestasies in die sesde administrasie.
Saul sê hy sal die provinsie verder laat groei, en modern en suksesvol maak. ’n Stewige basis is reeds gelê. Verbetering in maatskaplike omstandighede en ekonomiese groei is die belangrikste oogmerke.
“Dit vereis sterk vennootskappe tussen die regering, sakesektor, arbeid, en die burgerlike samelewing. As premier moet ek strategiese leierskap en koördineringsmeganismes instel. Die belanghebbendes gaan saam ’n provinsiale mediumtermyn-ontwikkelingsplan opstel vir die tydperk 2024 tot 2029. Dit sal gedeelde oogmerke asook tasbare en meetbare uitkomste uitspel.”
Saul sê sy grootste prestasies is die verkryging van en bouwerk aan die Boegoebaai-hawe waarby Transnet betrokke is. Die provinsie het sy eerste gelisensieerde Spesiale Ekonomiese Sone in Namakwa gevestig wat die voorgestelde Boegoebaai met spesiale nywerheidsparke in Upington en Kathu sal verbind. Ander projekte is die Prieska Power Reserve, Upilang en Sasol se Boegoebaai-vuurtoringbelegging, wat die energiesektor en Suid-Afrika se Just Energy Transition-program deur groen waterstof, hernubare energie, en toegewyde netwerk- en pypleidinginfrastruktuur ondersteun.
“Ons moet ons jeugdiges, wat 60% van die bevolking uitmaak, se vaardighede verder ontwikkel om werkloosheid op te los. Ons het reeds die twee Seta-programme van R800 miljoen wat sowat 26 000 werklose mense bevoordeel, bekendgestel. Die merSeta en servicesSeta en Werkloosheidsversekeringsfonds is vaardigheidsontwikkeling- en beursprogramme.
“Die Arbeidsaktiveringsprogram is ontwerp om die indiensneembaarheid van werkloses deur opleiding en ondernemingsontwikkeling te bevorder op gebiede soos konstruksie, ondernemings-ontwikkeling, landbou, sekuriteit, mynbou en gasvryheid,” sê Saul.




