Ek het verlede week die voorreg gehad om my bladsy-buurman, Hannes Noëth, se boekbekendstelling by een van die aftreeoorde in Kimberley by te woon.

Eie aan sy persoonlikheid en hoë standaard was dit ’n reuse-sukses.

Ná die geleentheid stap ek saam met nie-inwoners van Kimberley na ons onderskeie voertuie, en ons beweeg verby die 24-uur-versorgingseenheid.

In die verbygaan noem een van die mense wat die boekbekendstelling bygewoon het vir sy vrou hoe beïndruk hy met hierdie aftreeoord is – hy merk ook op dat die oord ’n 24-uur-versorgingseenheid het.

Hulle vertel dan skertsend dat hulle reeds ’n plek by ’n aftree-oord gekoop het en dit verhuur, maar die planne daar om ’n 24-uur-versorgingseenheid te begin, het nog nooit ’n werklikheid geword nie.

Hulle is, heeltemal te verstane, bekommerd hieroor.

Ek dink aan die mensies wat op hierdie stadium van hul lewe dié soort versorging benodig.

“Sommige mense verskil van my, maar ek is dankbaar ek weet nie wat vir my wag nie,” sê ek.

Die egpaar stem heelhartig saam.

“Met moontlike slegte nuus wat in die toekoms wag, sou ons nie die hede kon hanteer nie,” meen hulle.

“Kyk na die wonderlike nuwe vriende wat ek vanoggend hier gemaak het – sonder dat ek geweet het so iets spesiaals gaan gebeur,” sê ek en glimlag.

“Wat ’n voorreg.”

Ek is dankbaar dat ek nie weet wat die toekoms inhou nie.

Mense mag van my verskil.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article