“Dit is bevrydend om iets weg te gee,” sê sy en beduie met haar hande in ’n halfmaan voor haar bors.

Hiermee stem ek heeltemal saam.

Om gebruiksartikels of klere vir iemand te gee wat dit kan gebruik, is ’n wonderlike voorreg.

Veral as ’n mens dit met ’n goeie hart, sonder enige verwagting, doen.

Pak ’n mens kaste reg, is daar altyd artikels wat jou laat wonder waarom jy dit nie lankal weggegee het nie.

Sentimentele waarde hou baie onbruikbare artikels in kaste.

Dit is heeltemal verstaanbaar.

Soms is daar iets wat ’n mens wou gebruik het. Kon gebruik het. Moes gebruik het. Sou gebruik het.

Om die een of ander rede het dit nooit gerealiseer nie. Hoe meer tyd verloop, hoe skraler raak die kans dat ’n mens dit wel gaan gebruik.

Partykeer skaf ’n mens iets met ’n spesifieke doel in gedagte aan. Ongelukkig werk alle planne nie ewe goed uit nie. Hierdie artikels raak dan in onbruik.

Die lewe verander. Dit wat gebruik is terwyl die kinders klein was, is nie noodwendig bruikbaar wanneer hulle groter is nie.

Iets wat jy ’n dekade of twee self gebruik het, staan nou en stof opgaar.

Soms hou ’n mens aan goed vas omdat ’n mens dit net nie kan of wil laat gaan nie.

Daar is baie mense met ’n behoefte aan basiese gebruiksartikels.

Maak jou hart en hand oop.

Gee weg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article