Ons bevind ons in die middel van die winter.
Ons bibber. Veral die afgelope paar dae.
Ek verstaan dat daar mense is wat swaar trek gedurende die koue dae, maar ek trek effens swaarder.
Dit gebeur waarskynlik as jy grootgeword het waar dit nie ryp nie.
Ek verstaan ook dat daar mense is wat die koue dae verwelkom. Iewers in die lewe moet daar mense wees wat van albei wêrelde hou en die balans handhaaf.
Enkele kere deur die loop van die jaar vra ek my man dieselfde vraag en kry herhaaldelik dieselfde antwoord.
“Verbeel ek my of is dit vandag warm?” vra ek.
Dan word ek aangestaar.
“Vrou, ons is al diep verby 40 °C,” kry ek die antwoord.
“Jou termostaat is gebreek.”
Inderdaad.
Warm is warm is warm, maar dit moet regtig warm word voordat ek ongemaklik begin voel.
Ek soek ’n trui sodra die temperatuur tot onder 30 °C daal.
Toe ons uit Natal na die Noord-Kaap verhuis het, het my man tydens die eerste winter gesê: “Môre is dit 11 °C.”
Ek het ingedagte my kop geknik en gevra: “En wat is ons middagtemperatuur?”
Nodeloos om te sê het ek baie moeilik aangepas.
Vir diegene wat hulle verlustig in die winterjas – geniet dit terwyl julle kan. Een van die dae sit die son nader aan moederaarde.
Dan kla die res van die mensdom weer, want ons is immers nooit werklik tevrede nie.


