“Ek het onlangs vir iemand gevra waarom sommige bejaarde mense so nors en krities raak,” skerts ’n vriendin.

“Sy antwoord was dat dit nie bejaardes is wat so raak nie, dit is mense wat nog altyd nors en krities was wat nou net bejaard is.”

Daar steek seker ’n mate van waarheid in.

Sommige bejaardes is vriendelik en simpatiek. Vol wysheid en insig. Dit is asof hulle iets uit die lewe geleer het en dit wil toepas en uitleef voordat dit te laat is.

Ander bejaardes is krities en negatief en sommer onbeskof.

’n Mens wonder wat die verskil veroorsaak.

Kan dit wel wees dat dit mense is wat eintlik nog altyd so was en nou net ouer geword het?

Mense verwerk terugslae verskillend. Sommige mense word sterker en wyser. Ander word sinies en bitter.

Dalk hang dit af hoe jy jouself en dit wat met jou gebeur hanteer en verwerk. Of jy opstaan en aangaan en uit dankbaarheid voortleef. En of jy verbitterd opstaan en verbitterd bly voortbeur.

Daar is mense met besonderse goeie menseverhoudinge. Dan is daar mense wat geen goeie menseverhoudinge het nie – en volgens hulle is dit almal rondom hulle se skuld. Dan is daar die gemiddelde mense met gemiddelde menseverhoudinge.

Gelukkig is die verbitterde bejaardes in die minderheid. Ongelukkig veroorsaak hulle so ’n wrang smaak in diegene om hulle se mond dat selfs ’n handvol van hulle te veel is.

Watter soort bejaarde gaan jy eendag wees?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article