Iemand skakel en vra dat ek hom van rekeningkundige raad voorsien. Al wat ek weet, is dat sy naam Ben is en wie hom verwys het. Ek maak ’n afspraak met hom by ’n plaaslike koffiewinkel.
’n Rukkie voor die afspraak daag ek by die koffiewinkel op. Daar is een man in die vertrek.
Ek gaan sit by ’n tafel, haal my skootrekenaar uit en begin werk.
Om 15:00 pak ek my rekenaar weg, neem my motorsleutels, beursie en selfoon en stap na die vreemdeling toe.
“Middag,” groet ek. “Is jou naam Ben?”
Hy kyk vanaf sy skootrekenaar op: “Ja, my naam is Ben.”
Ek sit my skootrekenaar, motorsleutels, beursie en selfoon op ’n oop stoel by dieselfde tafel neer.
“Ek is Karin,” beduie ek en glimlag.
Vraagtekens staar na my terug.
“Ons het ’n afspraak?”
Hy skud stadig sy kop. “Ek is op pad Kaap toe en het hier stilgehou om my e-posse te antwoord.”
Ek verduidelik lomp dat ek ’n afspraak met ’n Ben het en dat hy die enigste ander persoon in die koffiewinkel is.
“I really am Ben. What’s the odds?”
Ek neem my skootrekenaar, motorsleutels, selfoon en beursie en stap terug na my eerste sitplek.
’n Paar minute later stap ’n vreemdeling in en pyl op my af.
“Middag, ek is Ben.”
Hy steek sy hand na my toe uit.
Ek glimlag breed.
“Bly om jou te ontmoet, Ben.”


