Alle mense raak van tyd tot tyd keelvol – die redes hiervoor verskil in gewig en grootte.
Vandag is ek keelvol vir mense wat nie lus is om iets spesifieks te doen nie en dít as genoeg rede ag om dit inderdaad nie te doen nie.
Mense sal nalaat om werk te doen of afsprake na te kom – omdat hulle nie lus is om dit te doen nie.
Of die afspraak werksverwant of sosiaal van aard is, maak geen verskil nie.
’n Mens het selde werklik lus om iets te doen.
Sou iemand wag totdat hy of sy lus kry om die huis aan die kant te maak of wasgoed te was of kos te maak, sou daar waarskynlik ’n baie lang tyd verloop voordat hierdie aktiwiteite wel afgehandel word.
Soms is ’n mens nie lus om ’n spesifieke afspraak na te kom nie. Druk jy deur en doen dit, ongeag die feit dat jy nie lus is nie, voel jy agterna bly dat jy dit wel gedoen het.
In baie gevalle gaan dit nie net oor jou nie, dit gaan ook oor ander mense wat by die afspraak of werk betrokke is. Mense wat dalk ook nie lus is nie, maar wat meen dat dit die regte ding is om te doen.
Daar is baie redes waarom mense dinge nie kan of wil doen nie.
Om herhaaldelik die verskoning van “ek was nie lus nie” voor te hou is onaanvaarbaar.




