Sommige mense beoefen beroepe waarin hulle gehaltebeheer toepas. Iewers op masjinerie of toerusting is daar gewoonlik ’n klein plakkertjie met “QC”. Dit bevestig dat die produk nagegaan is en aan ’n sekere vlak van gehalte voldoen.

’n Mens kan sê dat werknemers in hierdie beroepe betaal word om foute te soek.

Hul geoefende oë moet foute uitwys alvorens die stempel van gehaltebeheer aangebring word.

Ongelukkig is daar mense wat foute soek en uitwys terwyl hulle nie geldelik daarvoor vergoed word nie.

Daar kan aanvaar word dat hulle ’n ander soort vergoeding daarvoor kry.

Dalk dat dit hulle beter oor hulleself laat voel?

Die lewe lewer verskillende soorte uitdagings op. Sommige uitdagings is relatief maklik oorkombaar. Ander is ongelukkig meedoënloos en uitmergelend.

Om iemand in jou lewens- of werksruimte te hê wat daarop uit is om jou foute op te spoor en aan die groot klok te hang is iets waarsonder die meeste mense kan klaarkom. Daar is genoeg uitdagings van ’n ander aard om die hoof te bied.

Die tyd en energie wat daarin gaan om jou werk of jou bestaan gereeld te probeer verdedig, is tyd en energie wat aan ander, belangriker goed bestee kan word.

As ’n mens ’n oomblik terugstaan en hierdie situasie van ’n afstand beskou, kry jy hierdie mense op ’n vreemde manier jammer.

Hoe saai moet die lewe wees om vreugde in iemand anders se foute te vind?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article