Die meeste mense sal saamstem dat daar min goeie redes vir ’n begrafnis is.
In uitsonderlike gevalle is die dood ’n uitkoms vir iemand wat verskriklike lyding moes deurworstel.
Naas hierdie morbiede rede is die enigste ander (moontlike) goeie rede waarskynlik dat familie en vriende mekaar sien wat lanklaas die geleentheid hiervoor gehad het.
Uiteindelik bring ’n begrafnis ’n mens by ’n spesifieke plek en tyd uit waarvoor jy dalk nog nooit andersins tyd kon kry of maak nie.
Dit geld vir ander familie en vriende ook. Daarom bevind julle julself op dieselfde plek en tyd vir dieselfde doel. Die geleentheid word aangegryp om nuus uit te ruil en bande te verstewig. Alhoewel dit nie die hoofdoel is nie, vorm hierdie interaksie die silwer randjie om ’n baie donker wolk.
Realisties gesproke is dit waar baie mense eers weer hul familie en vriende gaan sien.
Gewoonlik speel afstand die deurslaggewende rol. Met brandstofpryse wat weer die hoogte gaan inskiet, raak die kans vir ’n kuier by familie of vriende al hoe skraler.
Tyd is beperk. Werksladings meer. Uitdagings groter.
Ironies genoeg, wanneer iemand begrawe word, verstaan die wêreld dat jy vir ’n dag of drie alle afleidings eenkant moet sit om eers tyd hieraan te bestee.
Dit is die ontstellende gedagte – ons sien mekaar dalk eers weer by die volgende begrafnis.
Tensy dit onsself is wat begrawe gaan word.



