Ry ’n mens verby huise wat in die mark is, is die verkoopsagente se bordjies op die een of ander manier by die betrokke eiendom aangebring.
Sommige bordjies word aan die heining vasgemaak.
Ander word met ’n ketting en slot aan ’n boom op die sypaadjie vasgemaak.
Die boodskap is duidelik – die eiendomsagente probeer verhoed dat iemand die bordjies verwyder wat aandui dat die eiendom te koop is.
Oorspronklik het ek, sonder enige bevestiging, die afleiding gemaak dat dit dalk mede-agente is wat hul kompetisie wil kniehalter.
Dit kan dalk iemand wees wat ’n plat stuk bord en twee staalpenne benodig om iets anders mee te doen.
Iemand in ons woonbuurt het onlangs hul huis in die mark gesit.
Dit is twee dierbare mense met goeie harte.
Deur die jare het ons baie gekommunikeer en kosbare verhoudinge gebou.
Ek ry onlangs verby hul huis, waar die “Te Koop”-bordjie aan die heining vasgesit is.
Ek kyk ’n oomblik na die bordjie wat stewig vas is en wat nie in die verbygaan net afgehaal kan word nie.
As ek dit maklik kon afhaal sou ek.
Nou lyk my sienswyse anders.
Dit is waarskynlik nie mede-agente of iemand wat die materiaal benodig wat hierdie bordjies verwyder nie.
Dalk is dit net iemand in die woonbuurt wat wil hê hierdie betrokke inwoners moet effens langer vertoef.


