Die swaeltjies vlieg draaie in die blou lug bokant ons – swiep nou en dan af om ’n goggatjie te vang.
“Ek is bly ons swaeltjies is terug,” sê ek.
“Dit is omdat hulle goeie nuus bring vir mense wat nie van die winter hou nie,” sê sy.
Ek glimlag. Ek het nog altyd gewonder waarom ek opgewonde raak om ons swaeltjies te sien.
Dalk omdat dit beteken hulle het ’n baie lang reis oorleef en het veilig in ons land aangekom.
Dalk omdat hulle so gemaklik hul leefstyl hier hervat dat dit lyk asof hulle hier hoort.
Die Europeërs beskou hulle waarskynlik as hul swaeltjies, maar ek glo vas hulle is ons s’n.
“Die winter kry nie hierdie jaar sy groet klaar gegroet nie,” skerts ek.
“Julle moet vinnig jul magie vol eet, daar is alweer koue op pad.”
Asof hulle dit nie beter as enige mens weet nie.
Ironies genoeg is die temperature wat die laaste kouefronte hier in die Noord-Kaap meebring dalk warmer as die somers wat hulle in Europa beleef.
Dit is vreemd om te dink een plek se koue is warmer as ’n ander plek se warm.
Dalk behoort die swaeltjies nie aan Suid-Afrika of Europa nie.
Dalk is hulle sommer net die natuur s’n.
Maar ter wille van die swaeltjies en diegene wat nie van die winter hou nie, myself ingesluit: Winter, ons waardeer jou goeie maniere dat jy kom groet, maar dit is nou tyd om te gaan.



